Maklike maniere waarop jy en jou kinders in die gemeenskap kan terugploeg.

1 Sê dankie

Bak koekies en neem dit na die brandweerstasie of polisiekantoor naaste aan julle. Hulle sal bly wees oor die verrassing – en jou kind kan ’n paar van sy helde ontmoet en daardie wonderlike waens van nader beskou.

* Laat die kinders prentjies van brandweer- of polisielui in aksie teken wat die ouens teen die muur kan opplak.

* Hulle kan ook ’n gebed of ’n gediggie vir hulle op ’n mooi stuk papier skryf en dit raam.

* Gee ’n brandweer/polisiewa van Lego-blokkies.

* Laat die kinders ou brandweer- of polisiespeelgoed op ’n stuk geverfde karton vasgom om ’n tafereel te skep wat julle kan gee.

2 Leer gee

Kinders onder 10 is nog te jonk om liefdadigheidswerk te doen, maar daar is baie maniere waarop jy jou kinders kan aanspoor om hul gemeenskap ’n beter plek te help maak en hulle so te leer dat dit belangrik is om terug te gee.

* Maak ou koerante bymekaar en neem dit Dierebeskermsvereniging (DBV) toe – die DBV sê hulle kan nooit te veel koerante hê om in die hokke te gebruik nie.

* Diere-organisasies het ook komberse en troeteldierkos nodig. Brei saam vierkante tot dit groot genoeg is om vir ’n troeteldierkombers aanmekaargewerk te word. Gaan lewer gereeld kos by diere-organisasies af.

* Gaan saam deur jul klerekaste en kyk wat julle aan liefdadigheid kan skenk. Dis belangrik dat sy self haar klerekas deurwerk en kledingstukke kies om weg te gee.

* Kry ’n paar maatjies bymekaar en gaan maak ’n groen gebied skoon. Julle kan ’n strand, vleiland, park of rivierwal skoonmaak.

* Laat jou kind vyf stukke van haar eie speelgoed kies, dit mooi verpak en dit gaan aflewer by ’n kinderhuis, hospitaal, behoeftige kleuter­skool of enige plek wat ’n behoefte aan speelgoed kan hê. Dis belangrik dat sy dit self doen sodat sy betrokke bly by die liefdadigheidsplan.

* Is daar iemand in jul omgewing wat oud of siek is of andersins hulp nodig het? Gaan help dan gereeld saam om blare in sy tuin weg te hark, sy inkopies te doen, namens hom in ’n tou te staan of vir hom ’n maaltyd te kook.

* Besoek ’n tehuis vir bejaardes en gesels met die mense daar. Neem foto’s wat julle later kan terugneem.

* Bak saam ’n koek en gaan lewer dit by ’n plek vir hawelose mense af.

* Maak saam ’n mooi kosmandjie op, versier dit en lewer dit by ’n behoeftige gesin af

WENKE: MAAK SO ’N GUL KIND GROOT

* Laat jou kind sien hoe jy aan ander gee. As jy wil hê jou kind moet ’n groot hart hê, maar julle bestee al jul geld aan julleself, gaan sy eerder jou voorbeeld as jou vermanings na-aap.

* Gesels met jou kinders oor hoe jy besluit hoeveel en wat om te gee. Wat is ’n verdienstelike saak? Leer hulle dat ’n mens nie net geld nie, maar ook dinge en jou tyd kan gee.

* Sit ’n deel van hul sakgeld opsy vir liefdadigheid. Laat hulle elke maand of week hul sakgeld in drie verskillende spaarvarkies sit: ’n deel vir hul gebruik, ’n deel om te spaar en ’n deel vir ander.

* Prys hulle as hulle gul optree.

BRON: HUISGENOOT SPEEL