Die lang vakansie is eindelik verby en duisende studente stroom na universiteite landwyd om hul studentejare te begin. Al het jy waarskynlik ’n lys moets en moenies by jou universiteit ontvang, is hier ’n lys wenke wat jou eerste paar dae op universiteit seepglad kan laat verloop.

  1. Onthou jou bewys dat jy gekeur is vir jou kursus en/of koshuis. Hou alle belangrike dokumente byderhand in ’n lêer.
  2. Pak jou sonroom, gemaklike klere en ’n sonhoed in; eerstejaars-aktiwiteite verg dikwels baie tyd in die son.
  3. Pak ’n notaboekie en pen in sodat jy maklik aantekeninge kan maak tydens oriëntering.
  4. Onthou basiese eetgerei, soos ’n paar messe, borde en vurke. As jy ’n kamer deel, moenie alles op een slag gaan koop nie. Jou kamermaat het waarskynlik ook ’n hoop goed, en saam-saam behoort julle reg te kom.
  5. Sorg dat jou huiskomitee bewus is van enige mediese toestande of allergieë wat jy het.
  6. Hou ’n kopie van jou kamer- of woonstelsleutel op ’n plek waar jy dit nie kan toesluit nie.
  7. As jy ’n kamermaat het, kry sy of haar telefoonnommer so gou moontlik en hou dit byderhand. Sorg dat jou ouers/voogde dit ook het.
  8. Neem ’n gerieflike rugsakkie saam sodat jy al jou dokumente en persoonlike besittings maklik kan ronddra.
  9. Merk al jou belangrike items en klere duidelik met jou naam.
  10. Pak energieryke kos en peuselhappies in wat jy tussendeur oriëntering kan eet. Onthou ook ’n bottel water om jou gehidreer te hou.

Mieke Vlok