Soms stort die ouers meer trane as die kleinspan wat vanjaar vir die eerste keer groot skool toe gaan.

Hier’s ’n paar wenke hoe om op die eerste dag voor te berei, gevolg deur ’n paar algemene wenke hoe om skoolgaande kinders deur hul dag te help.

Lees ook: Toets jou kind vroegtydig

Berei so voor op die eerste skooldag

  1. Gun ’n bietjie ekstra tyd om gereed te maak vir hierdie belangrike oggend. Dit help angs verhoed en hier word nie net na jou kind s’n verwys nie. Ouers kan ook gespanne wees oor wat wag; jou kind sal dit aanvoel.
  2. Maak seker jou slimfoon of kamera is byderhand, want jy sal bes moontlik die eerste dag wil vasvang.
  3. Wees positief oor dit wat op jou kind wag en versterk die boodskap terwyl julle op pad skool toe is.
  4. Herinner jou kind waar en wanneer jy hom ná skool optel. Gee jou kind ’n wagwoord as jy hom nie self by die skool gaan haal nie. Hou dit eenvoudig, en maak seker die persoon wat hom namens jou gaan haal, weet wat die vraag en antwoord is.
  5. Moenie jou kind met sy tuiskoms ná die eerste dag met vrae bestook nie. Gee hom kans om ’n bietjie af te wen ná die dag se opwinding en nuwigheid.

Lees ook: Jou slim kind sal mal wees oor Myslimkind

Algemene wenke vir skooldae

1. Stel ’n rooster op

’n Chaos kan heers as ontbyt gereed is en jou kind is nog besig om aan te trek. Skakel onnodige spanning uit deur ’n vaste reëling te tref dat die hele gesin voor ontbyt reeds aangetrek is vir die dag, en natuurlik betyds by die skool sal wees.

2. Wat om aan te trek

Besluit die aand vooraf watter klere gedra gaan word (in geval van dagsorg/kleuterskool) en sit dit reg vir die oggend. Dit sluit sokkies en onderklere in.

3. Sit skoene bymekaar

Maak seker die regte paar skoene staan reeds die aand gereed. Nes wegloopsokkies, het skoene die gewoonte om ’n maat te “verloor” en die gepaardgaande harwar om dit op te spoor, veroorsaak net onnodige spanning.

4. Bedtyd

Vermy laat nagte met kinders. Laat hulle op ’n vasgestelde tyd vroeg reeds gaan slaap sodat hulle behoorlik uitgerus is voor die skooldag aanbreek.

5. Kosblikke

Berei dit reeds die aand voor, selfs al is jy poegaai. So weet jy betyds as daar iets soos melk, botter, brood of smeer kort en jy hoef nie vroegoggend vervaard winkel toe te jaag nie.

6. Selfstandigheid

Dit kan dalk ’n rukkie duur, maar leer jou kinders van kleins af om self aan te trek. Dit kweek selfvertroue en gee jou boonop meer tyd om self gereed te maak vir die dag.

7. Die onverwagte

Jy weet vir seker niks verloop heeldag en aldag seepglad nie. Gun jou sowat ’n ekstra kwartier in jou oggendrooster vir klein glipsies, soos ’n glas melk wat op ’n skooluniform beland en daar gou vars aangetrek moet word.

8. Die belangrikste wenk

Selfs al is jy soggens haastig, ruim altyd tyd in vir drukkies en om jou kind te laat weet hy is geliefd, gekoester en veilig.

BRONNE: babycenter.com, kidsmatter.edu.au, sheknows.com