Kaapstad –

Die minster van vervoer, Dupuo Peters, stel die wysiging aan die Nasionale Padverkeerswet amptelik van 1 Mei af in werking, maar om die slagting op die land se paaie te verminder, sal wetstoepassers veral in die vakansietye toeslaan op ouers wat nie hul kinders se veiligheid vooropstel nie.

Ingevolge die nuwe wet, waarvan die voorneme op 31 Oktober 2014 bekendgemaak is, sal alle kinders onder drie in ’n motorstoeltjie vasgegespe moet wees wanneer hulle in ’n motor ry. Volgens die departement sou dit motoriste genoeg tyd gegee het om die nodige motorstoeltjietoerusting aan te skaf voor dit op 1 Mei van krag word.

Tydens die bekendstelling van die padveiligheidsveldtog vir Paasfees 2015 het Peters gesê selfs al is ’n afname van 26 persent in padsterftes bemoedigend, bly dit ’n groot bron van kommer.

Statistiek toon ook padongelukke, insluitend ongelukke waarby voetgangers betrokke is, is die hoofoorsaak van dood by kinders jonger as vyf. Die padsterftesyfer oor Paasfees het afgeneem van ’n skokkende 201 in 2013 tot 148 in 2014, volgens die departement van vervoer. Arrive Alive se navorsingsdata en statistiek oor die belangrikheid van sitplekgordels en motorstoeltjies toon sitplekgordels verminder die waarskynlikheid van sterfte met 40 tot 50 persent vir bestuurders en passasiers op die voorsitplek en sowat 25 persent vir passasiers op die agtersitplek.

Statistiek toon ook padongelukke, insluitend ongelukke waarby voetgangers betrokke is, is die hoofoorsaak van dood by kinders jonger as vyf.

Daarby is om uit ’n motor te val een van die ernstigste goed wat in ’n ongeluk met ’n mens kan gebeur – driekwart van alle insittendes wat in ’n ongeluk uit ’n voertuig val, sterf.

Die navorsing toon sitplekgordels keer dat iemand uit ’n motor val, want altesaam 44 persent van nievasgemaakte passasiers in voertuie sterf wanneer hulle gedeeltelik of heeltemal uit die motor val vergeleke met net 5 persent van vasgemaakte insittendes. Belangriker nog, die ondersoek toon kinderveilige motorstoeltjies wat reg ingesit en gebruik word vir kinders tot vier jaar kan die risiko van sterftes van babas met 70 persent verminder en dié van kinders van een tot vier jaar met 54 persent.

Die toestand op ons paaie is onaanvaarbaar en moet aangepak word met die erns wat dit verdien. As Suid-Afrikaners moet ons ons houding op ons paaie verander en daarop let dat ons paaie ’n nasionale bate is wat deur wette gereguleer word wat almal moet respekteer en eerbiedig, het Peters gesê.

Peters het ook die volgende streng waarskuwing aan alle Suid-Afrikaanse padgebruikers gerig: “Verlede jaar is 283 323 voertuie tydens operasies van die pad afgetrek en 43 433 boetes uitgeskryf, 1 094 voertuie afgeskryf en 1 457 geskut. Altesaam 330 mense is vir dronkbestuur in hegtenis geneem. Daarom is ons boodskap aan almal wat die reëls van die pad wil oortree duidelik: Ons sal jou vang en daar sal gevolge wees. Wees gewaarsku.”

News24 Wire