Is ek al een wat desperaat probeer om ’n kleuter te oorreed om TV-reekse te kyk wat nie ’n pers dinosourus in die hoofrol het nie?

Ek het niks teen die arme Barney nie, maar kleuters hou daarvan om programme oor en oor te kyk en ek kan ook net soveel daarvan hanteer.

Ek weet die program leer kinders om met mekaar oor die weg te kom en om gaaf te wees. Dis goeie waardes, ja, maar ek kan nie Barney se krakerige stem verduur nie – ook nie daardie afgryslike snorklag of enige van daardie liedjies wat so in jou kop vassteek nie.

Kleuters is absoluut verslaaf daaraan. Dis ongelooflik hoe ons kleinding vasgenael daar sit – dieselfde kind wat nie eens kan stilstaan sodat ek haar hare kan borsel nie.

Maar ek het genoeg gehad. Elke keer dat sy vra om Barney te kyk, stel ons iets voor wat ons darem ook kan verduur. Tot dusver het ons wenners gevind met Peppa Pig en Charlie and Lola en hopelik sal daardie lysie binnekort begin groei. Dis oulike programme met humor wat volwassenes kan waardeer.

Peppa Pig is betowerend. Peppa, ’n vyfjarige varkie, haar kleinboet, George, en hul ouers, Mummy Pig en Daddy Pig, hou almal daarvan om in modderpoele rond te plas.

Ek hou van die feit dat die vroue slim, sterk en in beheer is – Miss Rabbit is die dorp se brandweervrou, helikoptervlieënier en busbestuurder en vele meer – ek het al ophou tel (ek is nie seker wanneer sy kans kry om te slaap met so baie werk nie!).

Mummy Pig het die een of ander belangrike werk – ek kan nie mooi uitwerk wat dit is nie – en Mrs. Zebra het ’n suksesvolle pottebakkery-ateljee (ja, ek het al soveel episodes gekyk dat ek alles daarvan weet).

Daar gebeur baie in die vyfminuut-episodes en die kleinding kan ’n paar kyk sonder om te opgewonde te raak. Maar die program laat my oor ’n paar dinge kopkrap. Hoekom is al die diere dieselfde grootte?

Dit pla my dat Pedro Pony net so lank soos Peppa en haar vriendin Suzy Sheep is. Hy moet eintlik groter wees, of hoe? En hoekom probeer Danny Dog nooit om Rebecca Rabbit te eet nie?

Ek het later op Google gaan uitvind hoekom almal op heuwels bly nadat die vraag by my bly spook het. In How Peppa Pig Brought Home the Bacon, ’n artikel op die webtuiste van die Financial Times oor die reeks se sukses, verduidelik een van die skeppers, Mark Baker: “Wanneer ’n kind hul huis teken, sal hulle dit gewoonlik op sy eie teken. Dis snaaks om so ’n groot heuwel te hê en eintlik ’n bietjie verspot dat Peppa en George elke keer dat hulle gaan speel by hierdie baie steil heuwel moet afhardloop. Dis optimisties en pret.”

Die ander program, Charlie and Lola, gaan oor ’n oulike broer en suster wat oor allerhande dinge leer sonder om te irriterend te wees. Ek is boonop mal oor die titels van die episodes wat gaan oor wat ook al Lola pla, soos Ek sal nooit, ooit ’n tamatie eet nie, Ek is heeltemal te klein vir skool, Ek is nie vaak nie en Ek gaan nie slaap nie (jip, daar is beslis ’n bietjie van ’n hardkoppige streep wat deurslaan).

Tog pla die gebrek aan ouerlike toesig in hul huis my – arme Charlie lyk of hy alleen verantwoordelik is vir sy kleinsus.

Ons moet nog soms inwillig en Barney op die kassie toelaat, maar danksy Peppa Pig en Charlie and Lola beslis nie meer so gereeld soos voorheen nie.

- Barney and Friends is weeksdae om 08:30 op SABC3 te sien.

- Peppa Pig is weeksdae om 14.30 op e.tv te sien en word Saterdagoggende herhaal.

- Charlie and Lola is daagliks om 17:50 op CBeebies te sien.

[caption id="attachment_38006" align="aligncenter" width="500"]Peppa Pig en haar familie spring in modderpoele. Peppa Pig en haar familie spring in modderpoele.[/caption]

[caption id="attachment_38007" align="alignnone" width="600"]Charlie en Lola Charlie en Lola[/caption]