Ons het met ’n kenner gesels oor hoe jy dié situasie doeltreffend kan benader.

Jolanda Dreyer, beradingsielkundige en opvoedkundige spesialis, spesialiseer al die afgelope 19 jaar in sielkunde. Sy gee insig oor hoe om die situasie te benader en die minste moontlike konflik te veroorsaak.

Hoe gemaak wanneer ’n ouer ’n kondoom in sy of haar kind se laai kry?

Dis baie belangrik om versigtig te werk te gaan en die situasie objektief te benader. Moenie die kind in die verleentheid stel nie, anders sal hy hom aan die situasie onttrek en toeklap.

Kies die vrae mooi wat jy gaan vra aangaande die situasie. Dit is ’n onderwerp wat nie met haas aangepak moet word nie; dink mooi voor jy die kind konfronteer.

Hoe benader ’n mens so ’n onderwerp met ’n kind?

Moenie die kind met ’n klomp vrae bestook nie en moenie aanvallend wees nie. As jy te veel vrae vra, sal jou kind op sy perdjie klim. Wees subtiel, en sê liewer: “Vertel my meer daaroor.”

Hopelik is die kind eerlik, en dan kan julle die probleem sommer dadelik oplos.

As jy nie weet hoe om die situasie te benader nie, kry ’n opgeleide persoon en reël ’n sessie.

Hoeveel inligting moet jy verwag sal jou kind met jou deel oor sy of haar seksuele gedrag?

Probeer die situasie normaliseer sodat jy en jou kind openlik kan praat. Wanneer jou kind jou in sy of haar vertroue neem en oor sy of haar seksuele gedrag praat, moet jy seker maak dat jy nie die kind se vertroue skend nie.

Jy wil hê jou kind moet liewer eerlik met jou moet wees; wen dus sy of haar vertroue en doen moeite om dit te behou.

Is enige ouderdom te jonk?

Enige kind wat nog op skool is, is te jonk. Dis nie net ’n morele kwessie nie, maar ’n sielkundige vraagstuk. Kinders op daardie ouderdom is nog nie reg vir die seksdaad nie. Die eise wat dit stel, is ontwikkelingsgewys te ver gevorder.

Moet dit nie aanmoedig nie, en probeer sinvol wees in jou verduideliking aan die kind oor waarom hy of sy liewer moet wag.

Jolanda meen ook ouers moet iemand nader wat daagliks hiermee te doen kry voor hulle met die kind praat of enige sodanige situasie benader.

  • Het jy al op iets afgekom in jou kind se laai wat jou laat sidder het? Laat weet ons gerus!