Wanneer ’n kind hulself met ’n kragbron beseer, kan die paniek groot wees en ’n mens maklik vergeet om logies te dink.

Maak seker die hoofkragbron is afgeskakel voor jy aan iemand raak wat geskok is, sê dr. Julian Fleming, die bestuurder van die Wes-Kaapse gesondheidsdepartement se afdeling vir nooddienste.

  • “As jy onseker is of dit veilig is, wag op die nooddienste.”
  • Kwaai skokke kan ook tot inwendige brandwonde lei, wat kort ná die skok noodlottig kan wees. Die nooddienste moet dan dadelik ontbied word.
  • “Soek twee wonde: die in- en uitgangswond,” sê Julian. Die uitgangswond sal wees by ’n deel van die liggaam wat aan die grond geraak het.
  • Al is ligte skokke baie pynlik, is ’n verband en antibakteriese salf genoeg om dit te behandel.

Hy sê mediese hulp moet ontbied word as iemand enige van die volgende simptome het:

  • Kwaai brandwonde
  • Hulle is verward
  • Hulle sukkel om asem te haal
  • Onreëlmatige hartkloppings
  • Spierpyne, spasmas en stuiptrekkings

Skakel die volgende noodnommers tydens ’n krisis:

  • Landwye gifinligtingsentrum: 0861-555-777
  • Netcare 911 se noodlyn: 082911
  • Staatsambulanse: 10177
  • ER24 se noodlyn: 084124