Bekki Pope, wat haar moederskapsreis op haar Facebook-blad Mummy Mumbles deel, het ’n lys van 20 goed geplaas wat jy moet weet nadat jy die lewe geskenk het. Die ma van Hertfordshire, Engeland, het ’n seun verwelkom en besluit om haar eerlike en baie snaakse beskouing te deel oor hoe sy dae daarna gevoel het.

In haar lys praat Bekki oor “agterna-pyne”, die “eerste piepie” en ook skreeusnaakse raad oor die “eerste poef”.

“Moenie paniekerig raak nie, jy kry nie nog ’n baba nie. Dit voel net so”, skryf sy. “Jou agterent val nie uit nie. Of dalk wel. As jy aambeie het. Wat jy waarskynlik het . . .”

Sy sê verder die baba lyk dalk eers ’n bietjie vreemd, maar moenie bekommerd wees nie – mense sal in elk geval gaaf wees daaroor.

Maar jy weet wat die waarheid is: ". . . hy lyk soos ’n haarlose, effens pers oupatjie met droë bloed en vel aan sy verrimpelde gesig vasgeplak.”

Sy het ook ’n interessante mening oor pasgeborenes se gevoelens heens jul ma . . .

“Jou baba haat jou. Hy huil nie. Hy kommunikeer met sy meester – die duiwel – oor hoe suksesvol hul plan gaan wees om jou te vernietig.

“Eerlikwaar, hy haat jou nie regtig nie. Dit lyk dalk of hy nooit huil wanneer iemand anders hom vashou nie of dat hy dit geniet om jou heelnag wakker te hou, maar eintlik is hy so afhanklik van jou dis ’n verleentheid,” skryf sy.

Die tong-in-die-kies plasing is al meer as 94 000 keer gedeel en baie ma’s voeg nou hul stuiwer in die armbeurs.

Die stuk het ook ander mammas aangespoor om hul eie raad te bied.

Nadat sy so baie reaksie gekry het, het Bekki aan The Huffington Post gesê sy deel haar lys, want toe sy swanger was, het niemand al die grieselrige besonderhede oor kraam gedeel nie.

“Hulle het almal gesê dit was die wonderlikste ding ooit en dit sal jou lewe verander. En natuurlik was hulle reg.”

“Maar nadat ek dit ervaar het, was daar so baie waaroor niemand my gewaarsku het nie. En ek het gevoel ek is dit aan alle ma’s verskuldig om ’n eerlike vertelling te gee oor hoe ’n groot lyf ’n klein lyf uitdruk.”

Haar belangrikste raad: “Hou op om jou te bekommer. Jy is nie Superwoman nie, daar is nie iets soos normaal nie, en daar is geen ding soos volmaak nie. Jou baba is normaal. Jy is jou baba se volmaak.”

Bronne: The Huffington Post. Bored Panda.