Bomklappers is basies plofstof. Wanneer só ’n klapper ontplof is dit baie soortgelyk aan ’n bom wat ontplof.

“Groot en hard,” sê Johan Pieterse, woordvoerder van die Tshwane-nooddienste.

Johan sê bomklappers is “’n groot issue en uiters gevaarlik”.

“Klappers is plofstof. Dit is kruit. Dit is nie goed om mee te speel nie,” sê Johan.

“Wanneer dit binne ’n vertrek afgaan, kan dit ruite breek. Dit kan ook ’n brand veroorsaak.

“Jy wil nie hê dit moet in die verkeerde hande beland nie.”

In Polokwane het die sewejarige Kosie Wessels, ’n leerling aan die Laerskool Piet Hugo, die naweek sy linkerhand verloor nadat ’n bomklapper in sy hand ontplof het.

Johan sê elke dorp het sy eie bywette waarvolgens klappers – die verkoop en gebruik daarvan – gereguleer word.

In Pretoria mag klappers nie verkoop word aan persone jonger as 18 nie terwyl in Polokwane moet jy 16 of ouer wees as jy klappers wil koop.

’n Kundige wat met plogstof werk in Polokwane sê mense besef nie hoe gevaarlik klappers is nie. Buiten vir die strukturele skade wat dit aan ’n gebou kan aanrig, het mense dit al gebruik om hul eie lewens te neem.

Hy sê klappers is veral gevaarlik as dit oud word, want dan raak dit onstabiel.

Dié kundige, wat verkies om anoniem te bly, sê klappers word van oorsee af ingevoer. Mens weet nie hoe lank dit op ’n skip lê en hoe lank dit dan in ’n groothandelaar se winkel lê voordat dit uitkom by die kleinhandelaar wat dit aan Jan Publiek verkoop nie.

Die groot- en kleinhandelaars moet ook ’n spesiale lisensie, uitgereik deur die hoofinspekteur van plofbare stof, hê om klappers te mág verkoop. ’n Groothandelaar mag net een ton klappers op sy perseel hê terwyl ’n kleinhandelaar net 500kg op sy perseel mag hê.

Die kundige sou ook versigtig wees om ’n bomklapper in jou kamer of kas te laat lê omdat daar natuurlike elemente soos humiditeit die stabiliteit van die klapper kan beïnvloed.

En dit is dan wanneer dit regtig gevaarlik is.

Kosie se ma, Caroline Strydom het vroëer aan Huisgenoot gesê Kosie het die klapper in sy suster, Annabelle (17) se kamer gekry. Hy het toe na die voorhuis gegaan en die klapper aangesteek. Die klapper het in sy linkerhand ontplof.

Volgens die kundige mag klappers net onder toesig van volwasse persone afgevuur word. ’n Kind mag nie in besit van klappers wees nie.

“Tref spesiale voorsorg wanneer jy met klappers werk. As jou kind met ’n bomklapper by die huis kom, vind uit waar hy dit kry. Want dit is al hoe ons die onwettige verkoop daarvan kan stop,” sê Johan.

Wat is die verskil tussen klappers en vuurwerk?