“Goeie voeding is noodsaaklik omdat dit leerders die energie gee om aan skoolaktiwiteite deel te neem,” sê Madelein Luttig, ’n gr. 2-onderwyseres by Riverside College in Burgundy Estate, buite Kaapstad. “Gesinne eet dikwels gesonde etes tuis, maar baiekeer kry kinders gemorskos soos skyfies en sjokolade in hul kosblik. Dit is belangrik dat jy verseker jou kind het deur die dag ook toegang tot ’n verskeidenheid gesonde kosse.”

Gemorskos is baie nadelig: Dit bevat nie vitamiene, minerale en noodsaaklike vetsure nie; dit belemmer ook die liggaam se inname van voedingstowwe, wat op sy beurt konsentrasievlakke beïnvloed. In ’n studie by die Universiteit van Oxford is daar bevind dat te veel bewerkte kosse tot swak gedrag en leerprobleme kan lei. Daarteenoor is daar bewys dat ’n gebalanseerde dieet laerskoolkinders beter in die klas laat vaar, en hul selfbeeld en interaksie met hul portuurgroep verbeter.

“As jy jou kind van kleins af goeie eetgewoontes aanleer, gaan jy hul gesondheid op die lang termyn verbeter. Dit is omdat die meeste leefstylgewoontes kleintyd ontwikkel,” sê Madelein. “Met ’n bietjie moeite en voorbereiding kan ’n kind se skooletes pret en smaaklik wees.”

Madelein gee ’n paar wenke hoe om ’n gesonde kosblik te pak:

  • Vervang witbrood met lae-GI- of volkoringbrood.
  • Omega-3-vetsure is goeie breinkos, soos jy in salm, okkerneute en kiwi’s kry.
  • Probeer kos-maatjies maak, soos kersietamaties met blokkies kaas.
  • Pak ’n houertjie jogurt in vir ’n dosis kalsium.
  • Sny vrugte en groente in prettige vorms, soos wortelstokkies en komkommerwiggies.
  • Oorskietkos is ’n beter opsie as toebroodjies.
  • Pak water in pleks van sap. Verdun die sap as jou kind nie die water wil drink nie.
  • Hawermoutkoekies is gesond en smaaklik – en jy kan dit self maak!
  • Gekookte eiers en biltong is ’n goeie bron van proteïen, en dis maklik om in te pak.