ELKE oggend klokslag drink jy daai klein wit pilletjie – dis al net so roetine soos tande borsel. Die ronde wit tabletjie kom nou al jare saam met jou – op vakansies, gebêre in jou handsak . . . hy is altyd daar. Jy word paranoïes as jy een dag misloop, bang dat jy dalk oor nege maande ’n bondeltjie vreugde moet verwelkom.

Nou het die tyd aangebreek dat jy hom eindelik kan weggooi, want dis tyd om met ’n gesin te begin!

Ná ’n paar maande van die pilletjie af gebeur daar steeds niks. Jy’t die afgelope maande geen siklus gehad nie. Jou hormone is deurmekaar, jou vel slaan so erg uit dat jy soos ’n Panarotti-pizza lyk, jy moet snags twee keer skoon nagklere aantrek omdat jy so sweet, jy verloor gewig, jy sit gewig aan, jy word kwaad oor niks en bly oor niks. Kon so ’n klein pilletjie so ’n groot uitwerking op jou liggaam gehad het?

Inderhaas jaag jy winkel toe, so opgewonde om jou eerste swangerskaptoets te koop. Jy staan by die toonbank en maak seker almal sien jy het ’n trouring aan jou vinger en ’n glimlag op jou gesig. Terug by die huis voel die gewag vir die strepies soos ’n ewigheid en as die toets negatief is, voel jy half hartseer en teleurgesteld . . . Jy doen nog een, en nóg een en ná al die koppies koffie het jy 10 negatiewe toetsies. Jy was laf om te dink jy sal sommer binne die eerste maand swanger raak ná soveel jare op die Pil!

Nou begin jy dink daar is dalk iets met jou fout. Die ginekoloog sê alles is reg, niks met die hormone verkeerd nie, gebruik ’n salfie vir jou vel – en so gaan jy maar aan. Twaalf maande later en steeds niks nie . . . Nou begin jy dink: Is ek een van daardie vroue wat nie kán swanger raak nie? Wat is fout met my?

Dan begin al die vrae opduik waaraan jy moes gedink het die dag toe die dokter vir jou die voorskrif gegee en jy dit sonder enige kommentaar geneem het.

contraceptive_pill

Die Pil word vir baie jong meisies voorgeskryf met aandoenings soos aknee, endometriose of polisistiese eierstoksiekte. Maar dit los nie die probleem op nie, dit smeer hom net toe – soos ek uitgevind het toe ek opgehou het. My vel het sleg uitgeslaan ondanks die feit dat ek al 28 is. Hier het ek gedink ek is klaar met tienerpuisies; dit was immers hoekom ek die Pil 12 jaar tevore begin drink het.

Twaalf jaar lank was my vel pragtig – het ek maar geweet ek onderdruk net die aknee. Eintlik moes ek toe ek jonger was die middel Roaccutane gedrink het, sê die dermatoloog toe ek ten einde raad gaan aanklop. Ek moet glo agt maande wag en dan sal my vel regkom.

Die Pil meng in met jou vrugbaarheid, want dis gemaak om dit te doen. Dit voorkom dat jy ovuleer en swanger te raak. Dis seker waarom die meeste vroue die Pil drink, maar daar is langtermyn-newe-effekte. Die dokter stel my gerus dat ek my nie daaroor moet bekommer nie, tensy ek ’n familiegeskiedenis van trombose het. Maar nou is ek bekommerd, want my liggaam funksioneer al amper vir ’n jaar nie soos hy moet nie!

Aan die ander kant is elke mens ook uniek en anders. Van my vriendinne was al meer as 10 jaar lank op die Pil en het dadelik swanger geword. Party is maar net gelukkiger as ander. Van my ander vriendinne kan nie daarsonder klaarkom nie omdat hul maandelikse simptome te erg is.

My opsomming is: Elke persoon reageer anders op die Pil. Vir party is dit ’n absolute seëning en vir ander ’n nagmerrie. Al wat ek weet is dat ek dinge baie anders sou gedoen het as ek jonger was.

Tot volgende keer (en hopelik met goeie nuus)!

-  Sue Duminy

SUE Ons blogger Sue Duminy is getroud met die Protea-krieketheld JP Duminy. Volg haar op Twitter: @sueduminy_21.

Lees Sue se vorige blogs vir Huisgenoot by:

Sue Duminy wys ons hoe om koek te bak

Welkom in Londen!

Twee jaar getroud…