’n Wanhopige ouma maak haar hart teenoor Huisgenoot oop in ’n ope brief oor hoe ontwrigtend haar driejarige kleindogter se onlangse kuier was.

Sy meen vandag se kinders is heeltemal te bederf en word nie meer die nodige maniere geleer nie. Sy hoop dat ander oupas en oumas in dieselfde situasie dalk raad kan bied oor hoe om ’n bedorwe en ongemanierde kleinkind te hanteer.

[caption id="attachment_120296" align="alignnone" width="600"]Foto: Pixabay Foto: Pixabay[/caption]

So skryf sy:

Beste Huisgenoot,

Ek deel graag hoe ’n mens se kleinkind jou lewe kan ontwrig. Ek hoop ander oumas en oupas kan moontlik raad gee, want myns insiens is hierdie nogal ’n algemene probleem wat grootouers ervaar met kleinkinders wat eintlik ’n plesier moet wees en nie ’n nagmerrie nie.

Onlangs het my kleindogter by my en my man kom kuier. Sy is nou amper 4 jaar oud. Daar word ’n sleepwa geleen, want sy het baie goedjies wat moet saamkom en oupa se voertuig se bagasiebak is te klein vir al die behoeftes.

Eers word al die speelgoed gelaai, twee kratte vol, en dan ook die trampolien. Daarna volg die ander krat met storieboeke, inkleurboeke en -kryte. Dan kom die twee tasse met klere en ook haar “bersie” waarsonder sy nie kan slaap nie. Daar is ook ’n tassie vol DVD’s en ’n groter tassie vol medisyne.

En nog sakke vol koekies en lekkers.

Ten laaste ’n hele boek vol reëls: Sesuur moet dit gebeur en agtuur dat; op die kop tienuur ’n peuselhappie en so gaan dit aan. Dag een se opvoedkundige speletjie, dag twee s’n, ensovoorts.

Alles vir ’n week se kuier.

Ek wonder of ek dalk alles in ’n notaboek moet neerskryf en hoop maar ek onthou alles in die regte volgorde.

Met die draagbare DVD-speler agter die motor se sitplek gemonteer sodat sy darem nie té getraumatiseer word met die langpad (van drie uur se ry) nie, val ons in die pad. Ná ’n pakkie skyfies (wat oor die hele sitplek gestrooi lê) en ’n organiese sappie waarvan die helfte ook op die sitplek beland het, slaap sy genadiglik.

By die huis begin ’n soort nagmerrie. Nog voor die waentjie afgepak kan word, wil sy al DVD kyk. Sy skree ons rustige dak van sy fondasies af, want oupa is te stadig met die aflaai. Toe die DVD-tassie uit is, word daar ’n halfuur lank gesoek na die regte fliek en die keuse was uitermatig moeilik.

Sommer op dag een begin die een opdrag ná die ander aan oupa en ouma instroom: sy wil nou koekies hê; sy wil nou skyfies hê. Gou het ons geleer om maar te gee wat sy vra, want sy skree en het woedeuitbarstings as jy weier.

Daar word toe sommer ook vir die hele week nie aan tafel geëet nie, want by haar huis eet hulle voor die televisie. En gepraat van die TV: Die klank moet taamlik hard wees, want anders word die voetjies gestamp met ’n “ek kan nie hoor nie!” daarby.

Vir die hele week word alles op haar terme en voorwaardes gedoen. Eet nie dit nie, eet nie dat nie; kos word oral gemors en so ook drinkgoed.

Ons is uitgeput, moedeloos en skaamteloos bly toe sussie terug huis toe is.

Wat het in die samelewing verander? Leer ouers dan nie meer hul kinders maniere nie, insluitend tafelmaniere?

Ons ervaring was dat ouers vir hul kinders luister, en nie andersom nie. Kinders kry net wat hulle wil deesdae: te veel speelgoed, te veel lekkers en te veel hul sin.

En moenie eens daaraan dink om hul verjaardae weg te gooi nie; hulle gaan groot, baie groot. Verby is die dae van lekker partytjies by die huis met goedjies wat mamma self maak. Nou moet ouma en oupa net allerhande baie duur goed koop wat hulle nie kan bekostig nie.

Nee regtig, ek dink ouers moet nes huweliksberading voor die troue oor kinderberading ontvang.

Hoor graag van julle.

’n Wanhopige ouma

Is jy ’n ouma of oupa wat jouself in dieselfde posisie bevind? Laat weet asseblief vir Pieter Van Zyl by pvanzyl@Huisgenoot.com.

Lees ook op Huisgenoot.com:

Dis waarom jy nooit aartappels in die yskas moet hou nie

‘Ek hou jou dop!’: Man vind onheilspellende 15 jaar oue boodskap in sy kaggel

Massamoordenaar Anders Breivik kla oor ‘onmenslike toestand’ van sy tronksel

Sorina jubel in HOOFLETTERS! ‘Braambossie’ se sussie is hier

George-man kry 37 keer lewenslange tronkstraf ná hy dogter se maats verkrag

Het jy ’n fotografiese geheue? Net een persent van mense kan dié raaisel oplos!