Dit kan ’n vreesaanjaende vooruitsig wees om vir jou baba vaste kos te begin gee. As jy raad en babakos-resepte soek, is die kenner ongetwyfeld Annabel Karmel, een van Brittanje se beste ghoeroes oor voedsel en voeding. Hier onder is vyf van haar resepte wat almal geskik is vir kinders van ses maande en ouer.

Hoenderpuree met wortel en appel 

Bestanddele

½ e olyfolie

½ klein ui, geskil en gekap

350 g wortel, geskil en in skywe gesny

250 ml ongesoute hoenderaftreksel of gebruik water met ’n lourierblaar

1 hoenderborsie (sowat 125 g)

1 klein appel, ontkern, geskil en gekap

Metode

Verhit die olyfolie in ’n kastrol en soteer die ui tot sag. Voeg die gesnyde wortel by, giet die hoenderaftreksel of water en lourierblaar oor en bring tot kookpunt. Verminder die die hitte, bedek dan en kook 10 minute.

Sny die hoender in stukke en voeg die wortel en gekapte appel by. Laat kook nog 10 minute. Verwyder die lourierblaar indien nodig. Verwerk in ’n voedselverwerker tot ’n puree. Vries die oorskiet in individuele porsies.

Beesvleis en patat 

Bestanddele 

20 g botter

1 prei, gewas en in skywe gesny (sowat 150 g)

125 g smoorsteak, in blokkies gesny

1 e meel

100 g knopiesampioene, in skywe gesny

275 g patat, geskil en gekap

250 ml hoenderaftreksel

sap van 1 lemoen (sowat 120 ml)

Metode

Smelt die botter in ’n vlambestande kasserol en soteer die prei sowat 4 minute of tot sag. Rol die vleis in die meel, voeg dit by die prei en soteer tot verbruin. Voeg die sampioene by en soteer 1 minuut. Voeg die patat, aftreksel en lemoensap by. Bring tot kookpunt, verplaas na ’n oond wat vooraf tot 180°C verhit is en bak 1½ uur of tot die vleis sag is. Verwerk tot die verlangde dikte deur soveel van die kookvloeistof te gebruik as wat nodig is.

Puree met prei, patat- en blomkool

Bestanddele

12 g ongesoute botter

25 g prei, gewas en in skywe gesny

’n halwe klein patat, in blokkies gesny (150 g geskilde gewig)

250 ml kookwater

75 g blomkool, in blommetjies gesny

30 g gerasperde kaas

Metode

Verhit die botter in ’n pan en en voeg die prei by. Soteer sowat 3 minute liggies of tot versag. Voeg die patat by, giet die kookwater oor en kook 5 minute. Voeg die blomkool by, bedek en laat kook nog 5 minute. Verwerk die groente in ’n voedselverwerker saam met die gerasperde kaas.

Puree met perske, appel en aarbei 

Bestanddele

1 appel, geskil, ontkern en gekap

2 e appelsap of water

115 g ryp aarbeie, stele en blare verwyder

1 ryp perske, geskil, ontpit en in skywe gesny

1 e babarys

Metode

Plaas die gekapte appel in ’n kastrol met 2 e water of appelsap. Bedek en laat prut 5 minute. Voeg die aarbeie en perske by en kook 2 tot 3 minute. Verwerk tot glad en roer die babarys in.

Appels en pruime met bessies 

Bestanddele

2 soet eet-aappels (soos Pink Lady)

2 ryp pruime, geskil, ontpit en in blokkies gesny

55 g bloubessies

2 e water of suiwer appelsap

Metode

Plaas die appels, pruime en bloubessies in ’n kastrol met die water of sap. Verhit tot borrel, verminder die hitte en laat prut 7 tot 8 minute of tot baie sag. Voeg nog ’n lepel vol water of sap by indien nodig. Verwerk die vrugte in ’n voedselverwerker tot ’n puree of plaas dit in ’n bak en gebruik ’n handmenger. Vries in individuele porsies.

Met sulke wonderlike resepte kan jy in ’n japtrap jou baba leer vaste kos eet. As jy van die resepte hou, gaan kyk na Annabel Karmel se boek vir nog volop heerlike resepte wat jou baba sal geniet. Wie het gedink dit kan soveel pret wees om vir jou kind vaste kos te begin gee? Het jy lekker resepte om te deel?

Skrywer: Katharine Wellman

“Ek hou van hoe Annabel Karmel soet en sout geure meng en babakos smaaklik maak. As jy jou baba se kos wil eet, dan is dit geskik vir jou baba!” Kath Megaw.

BabyGroup sê:

Hierdie artikel is deur Kath Megaw, ’n pediatriese dieetkundige, nagegaan. Lid van die BabyGroup-mediese raad.