Volgens studieresultate wat in die Joernaal vir Verbruikersnavorsing gepubliseer is, is vroue meer geneig om te koop as hulle op hul vrugbaarste is. In ’n toets met 500 vroue tussen 18 en 40 jaar, is daar gevind vroue wat ovuleer is meer geneig om ’n verskeidenheid goed te koop. Dit kan glo verbind word met vroue se impuls om op daardie tyd van die maand ’n maat te soek, volgens prof. Kristina Durante van die Texas-universiteit. “Nes ’n visserman ’n wye net gooi, wil vroue wat ovuleer ’n wye net gooi om die aantal potensiële maats waaruit hulle moet kies uit te brei,” sê sy. “Die begeerte vir ’n verskeidenheid mans tydens ovulasie lei tot ’n ingesteldheid waar die vrou dan ook ’n begeerte vir ’n verskeidenheid produkte het.”

As jy volgende keer weer lus vir inkopies doen, kyk ’n bietjie waar in jou siklus jy trek sodat jy nie uitgevang word nie.

Dis die eerste keer dat daar ’n verband getrek word tussen vroue se verhoudings en verbruikerisme. Die begeerte vir ’n groter verskeidenheid mans hou verband met die drang om ’n verskeidenheid produkte te koop. En dit lyk of dit afneem wanneer vroue ’n maat het. “Vroue wat ovuleer kies uit verskillende opsies van lekkers tot skoonheidsprodukte – nie net dieselfde produk of handelsmerk oor en oor nie,” sê Kristina.

“Maar toe ons vroue vra om hulself te verbeel hulle is in ’n liefdevolle verhouding met ’n begeerlike maat, of toe ons getroude vroue vra om hul troueringe te dra, het hulle nie meer naby ovulasie soveel verskeidenheid gesoek nie.”

Die nuwe bevindings kan adverteerders help om vroue wat ovuleer te teiken deur hulle aan te moedig om hul koopgewoontes te verander. “Vir sowat ’n week elke maand kan vroue met ’n normale siklus – wat meer as ’n biljoen klante uitmaak – veral geneig wees om te reageer op mededingende handelsname se advertensies om iets anders te koop,” sê Kristina.

As jy volgende keer weer lus vir inkopies doen, kyk ’n bietjie waar in jou siklus jy trek sodat jy nie uitgevang word nie. Een nuttige wenk is om jou te verbeel iemand bied die produk verniet vir jou aan of gee vir jou die kontantwaarde daarvan. As jy meer in die geld belangstel, is die item nie regtig vir jou so begeerlik nie.

© Cover Media