Die ekonome Naomi Gershoni en Corinne Low, wat hul bevindinge dié week by die Europese Ekonomiese Vereniging in Duitsland voorlê, voer aan vroue wat meen hulle het maklike toegang tot IVB stel moederskap uit en spits hulle eerder toe op goed soos werk, want hulle voel nie gedruk om binne ’n sekere tyd nes te skop en kinders groot te maak nie. “Deur mense ’n vorm van versekering teen latere onvrugbaarheid te gee, kan vroue ’n loopbaan nastreef sonder om hul so baie te bekommer oor of dit hulle sal verhoed om ’n gesin te hê.”

Die navorsers het merendeels gekyk na vroue in Israel, waar IVB sedert 1994 gratis is. Daar is bevind die kans was gevolglik groter dat vroue wat op die ouderdom was waarop mense gewoonlik ma word, verder sou studeer en later sou trou. “Omdat IVB vroue in staat stel om later swanger te raak, is die ouderdom waarop mense trou ’n derde van ’n jaar hoër, 3 persent meer mense het hul studie aan ’n kollege voltooi en amper 4 persent meer het ’n graad behaal,” voer die navorsers aan.

Die ouderdom waarop vroue kinders kry en die konsep van ’n balans tussen ’n loopbaan en privaat lewe word die afgelope ruk vurig gedebatteer. Verskeie hoëprofielvroue word eers later in hul lewe ma. Die Hollywood-ster Halle Berry het in 2013 op 47 die lewe geskenk aan ’n seun, Maceo, en Laura Wade-Gery, wat vermoedelik die volgende baas van die Britse kleinhandelaar Marks & Spencer sal wees, is op 50 swanger.

Baie ondernemings begin ook herbesin oor hoe hulle vroue in die werkplek benader. Verlede jaar het Apple en Facebook bevestig hulle sal aanbied om hul vroulike werknemers se eierselle te vries sodat hulle op hul loopbaan kan konsentreer. Virgin het in Junie ’n nuwe beleid oor ouerskapsverlof aangekondig waarvolgens mense ’n volle jaar teen tot 100 persent van hul salaris kan neem.

© Cover Media