Sy smag daarna om ma te word. Nadat sy 10 jaar lank vergeefs probeer swanger word het, het ’n Suid-Afrikaanse vrou nou die konstitusionele hof genader om die wetsbepaling te verander wat dit vir haar onmoontlik maak om haar droom met die hulp van ’n surrogaatma waar te maak.

Artikel 294 van die Kinderwet vereis dat een van die gamete – voortplantingselle soos eierselle of sperma – van die voornemende ouers moet kom van die baba aan wie die surrogaatma die lewe sal skenk.

Dit maak dit vir enkellopende mense en pare wat albei met onvrugbaarheid sukkel, onmoontlik om met die hulp van surrogaatma ouers te word.

Die vrou wat haar nou tot die grondwetlike hof gewend het om hierdie wetsbepaling te verander, is geskei en mag volgens ’n hofbevel nie geïdentifiseer word nie.

Nadat sy 18 onsuksesvolle in vitro-behandelings met die eiersel en sperma van anonieme skenkers ondergaan het, het haar ginekoloog vir haar gesê sy sal nooit ’n suksesvolle swangerskap kan hê nie. Sy het toe besluit om ’n surrogaatma te kry om vir haar ’n baba te dra wat met skenkers se gamete verwek sou word.

Die wetsbepaling wat dit verbied, is verlede jaar in die Pretoriase hooggeregshof ongeldig en strydig met die Grondwet verklaar.

Maar nadat die departement van maatskaplike ontwikkeling teen die bevinding geappelleer het, versoek die vrou nou die konstitusionele hof om die bevel te bekragtig.

“Dit (die vereiste oor die genetiese verband tussen die baba en minstens een van die ouers ) maak inbreuk op ’n mens se waardigheid, en by die reg op waardigheid is ook ’n reg op lewe ingesluit,” het Donrich Jordaan, senior advokaat, in die konstitusionele hof gesê.

The Times berig Nelly Cassim het namens die departement aangevoer daar moet ’n genetiese verband vir surrogasie wees om geldig te wees.

As hierdie artikel van die wet ongeldig verklaar word, sal dit die doel verydel waarvoor dit ingestel is. “’n Genetiese verband is deurslaggewend,” het sy volgens die koerant gesê.

– Jana Smit

Bronne: The Times, The Star

Ander stories op Huisgenoot.com:

‘Ek moes dae lank na leuens luister,’ sê regter in Zephany-saak

Die ooievaar is omtrent besig onder bekendes – kyk wie se dogtertjie is ook gebore!

Liam Payne dolverlief op Cheryl Fernandez-Versini

Twee vissermanne sterf ná boot aan Weskus omslaan