Australië se Nasionale Kindermetingsprogram sien toe dat laerskoolleerders jaarliks geweeg en gemeet word. Daarna kry ouers per brief terugvoer oor die uitslag. Die program is 10 jaar gelede bekendgestel met die idee dat ouers hul kind sou kon help as hulle weet hy of sy het ’n gewigsprobleem.

Maar die jongste bevindings toon hierdie metode het moontlik net die teenoorgestelde uitwerking omdat kinders hulle tot trooskos wend wanneer hulle gestigmatiseer word.

Meer as 3 500 Australiese skoolkinders is deur dr. Eric Robinson, sielkundige van die Universiteit van Liverpool, en sy span ontleed. Die leerders is van vier- of vyfjarige ouderdom af tot op 12 of 13 jaar elke twee jaar geweeg en gemeet. Hul ouers is ook betrek, want hulle is gevra om hul kinders as ondergewig, oorgewig of van normale gewig te kategoriseer.

Al die kinders het gewig aangesit namate hulle ouer geword het, maar dié wie se ouers gemeen het hulle is groter as die gemiddelde, het die meeste aangesit. Dit het egter nie net betrekking gehad op dié wat oorgewig was nie, aangesien kinders wie se ouers gedink het hulle is oorgewig, terwyl hulle eintlik van normaal was, ook swaarder geword het.

Die bevindings dui daarop dat dit die ouers se mening is wat hul kinders se gewig beïnvloed en dat wanneer hulle geëtiketteer word as oorgewig, dit daartoe kan lei dat hulle te veel eet. Dit kan ook wees dat die ouers glo hul kroos is te groot om te oefen of hulle het meer kos nodig om hul honger te stil.

Die resultate is op ’n vooraanstaande konferensie voorgelê. Eric en sy medenavorser, dr. Angela Sutin van die Staatsuniversiteit van Florida, VSA, het die bevindings as volg verduidelik: “In teenstelling met die algemene opvatting, beskerm identifikasie van die ouer se kant dat die kind oorgewig is hom/haar nie teen nog gewigstoename nie; dit word inderwaarheid verbind met die aansit van nog meer gewig gedurende sy/haar kinderjare.

“Die behoefte is nou groter as ooit om die doeltreffendheid van die meet van kinders uiters sistematies te bepaal en die terugvoer te sif wat ons ouers gee.”

© Cover Media

Lees ook op Huisgenoot.com:

EKSKLUSIEF: ’n Groot gunsteling verlaat die Laan

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Liefde by die Dam: Francois van Coke kan skaars wag

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .