Verbeter jou voorskoolse kind se motoriese vaardighede met hierdie prettige aktiwiteite.

Teken en inkleur

Teken en inkleur help motoriese vaardighede ontwikkel. Behou die kinders se belangstelling deur verskillende inkleur- en verfmiddels te verskaf. As hulle nie daarvan hou nie, laat hulle ’n T-hemp of beker versier.

Legkaarte

Om ’n gewone legkaart uit te pluis is voordelig vir jou kind, maar maak dit uitdagender met moeiliker legkaarte, asook 3D- en virtuele legkaart-apps.

Balspeletjies

Laat jou kleinding buite klein en groter balle vang, gooi en slaan. Dis wonderlik vir hand-oog-koördinasie.

Konstruksie-speelgoed

Navorsing toon om dinge te bou is een van die waardevolste aktiwiteite vir ’n kind. Gebruik enige blokkies om ’n model, huis, voertuig of wat jou kind se verbeelding ook al optower te bou.

Slaansakke

Om ’n bewegende voorwerp te slaan sal help met hand-oog-vaardighede. Slaansakke is ook ’n goeie manier om die kuns van boks te leer bemeester sonder om ’n blou oog op te doen.

Rekenaarspeletjies

Rekenaar-, video- en tabletspeletjies bevorder visuele persepsie en presiese handkoördineringstyd. Daar is duisende apps wat spesiaal ontwerp is om hand-oog-koördinasie te verbeter. Onthou net om jou kind se tyd voor die skerm te beperk.

Handwerk

Krale inryg, kantwerk, pottebakkery, hekel en kaartjies maak is voorbeelde van handkuns wat hand-oog-koördinasie sal verbeter. Om iets met naaldwerk te skep, ’n spyker in ’n stukkie hout te slaan, goed te plak, goed uit te knip of klei te vorm is prettige aktiwiteite vir jou voorskoolse kind. Hou net ’n ogie oor hulle sodat hulle nie seerkry nie.

Poppe aantrek

Om uitrustings te kies en vir ’n pop aan te trek het groot opvoedkundige waarde. Selfs seuns kan hieruit voordeel trek, hoewel hulle dalk sal verkies om eerder met aksiepoppe te speel of stories met die hulp van plaasdiere uit te beeld.

Maak musiek

Om tromme of tamboeryne te slaan, die regte note op ’n xilofoon te speel of ’n klein kitaar te tokkel is wonderlike maniere om motoriese vaardighede te ontwikkel. Laat jou voorskoolse kind toe om alle soorte musikale instrumente te bespeel.

Kombuispret

Gebruik elke moontlike geleentheid om jou voorskoolse kind saam met jou te laat bak en kook. Hulle sal enigiets geniet – soos smeer, afmeet, roer of die bak uitlek – en sonder dat julle besef fyn motoriese vaardighede ontwikkel.

BRON: Annabelle Lombard van BabyGroup