Dit voel soos gister toe die gr. 11-leerders vol opgewondenheid was om die matriekklas van 2015 te word. Nou is die Junie-eksamen al weer iets van die verlede en die eindeksamen lê groot op die horison, asook die onsekerheid oor of hulle volgende jaar kan studeer of werk kry.

“Matriek is die sleutel tot verdere studie en ’n aanduiding van sukses aan die einde van 12 uitmergelende jare in die skoolstelsel – ’n leerder wat nie matriek slaag nie, het geen bewyse van hul opvoedkundige status,” sê Natalie Rabson van Boston City Campus & Business College. “Dis geen wonder dat daar so baie druk voor eksamentyd is nie.”

As gevolg van beperkte plek by tersiêre instellings raak die druk nog groter om in die matriekeksamens suksesvol te wees, voeg Natalie by. ’n Loopbaankeuse, die finansiële aspek van verdere studie, beursaansoeke en studielenings dra ook by tot die druk.

“Ja, daar is groot druk en ongelukkig bereik leerders emosionele uiterstes en maak sake erger vir hulself. Dit is asof die vrees vir mislukking alles oorheers. Maar matriekeksamens moenie so wees nie – eksamentyd moet ’n positiewe akademiese ervaring wees,” sê Natalie.

Wat is dus die beste benadering tot hierdie finale stap in ’n mens se skoolloopbaan en hoe gee jy jouself die voordeel om toelating tot ’n tersiêre instelling te kry? Hier is ’n paar wenke wat jy met jou leerders kan deel:

  • Stel jouself in om nie te stres en paniekerig te raak nie. Normale stresvlakke kan jou vinniger en doeltreffender help dink, maar as jou angs oorweldigend word, kan dit die teenoorgestelde uitwerking hê.
  • Dit is al bewys dat studieplekke wissel jou behoud kan verbeter. Dit gebeur omdat die brein assosiasies maak tussen wat dit inneem en die agtergrondsensasies wat plaasvind. As jy jou brein dwing om verskeie assosiasies met dieselfde studiemateriaal te maak, het dit die nodige ondersteuning om jou geheue te verbeter.
  • Navorsers het bevind dit is beter om in een sessie te fokus op verskillende maar verwante vaardighede of konsepte, eerder as om intensief op ’n enkele een te fokus. Dit gaan ’n dieper indruk op die brein help laat.
  • Dit help ook om meer te skryf: maak notas in die klas en van die inligting in die handboek, maak hersieningspakkies en maak breinkaarte; dit gaan inligting help vaslê en behoud verbeter.
  • Vermy kort voor die eksamen leer (cramming) – spasieer eerder jou studie so dat jy inligting gemaklik kan inneem. Dit verbeter jou geheue en vereis nie baie moeite nie.
  • Gebruik die internet wanneer my moet, of jy raad oor die beste studeertegnieke soek en of jy ’n uitvoeriger verduideliking van ’n onderwerp soek. Toets jou gedurig; dit gaan jou die inligting beter help bêre en dit toegankliker maak.
  • Wees bewus van jou sterk- en swakpunte en dink aan die tye dat jy suksesvol was en wat jy gedoen het om daardie sukses te behaal. Bly kalm, bly positief en fokus net op die eksamen wat voorlê. Dink later aan alles wat volgende jaar moet gebeur.