Kleuter kry vloerstuipe

EK DINK ek en my kinders het ’n fantastiese verhouding. Hulle praat met my en ons lag en oor die algemeen gaan dit goed met ons. Maar ons het baie duidelike grense. Ek is nie hulle vriendin nie en probeer dit ook nie wees nie. Daar is inkomtye, daar is reëls oor tegnologie en daar is tye wanneer ek nie baie gewild in ons huis is nie.

Ek het onlangs met iemand gesels saam met wie ek aan ’n nuwe projek werk. Jonty het my vertel dat sy kleuter hom tot binne-in hul bed ingewurm het. Nou is pa heeltemal uitgeskop, die kleuter slaap in die bed saam met sy ma en pa moet maar op die sitkamerbank gaan slaap. Hy wou duidelik ’n bietjie raad hê.

My reaksie was: Jy moet die ouer wees. Neem beheer en stel perke en grense. Daar is drie stappe:

  • Vertel jou kleuter jy verstaan wat hy wil hê (om in ma se bed te slaap).
  • Vertel hom wat die grens is (hy mag nie in die bed slaap nie).
  • Gee hom dan ’n keuse. Die keuse moet wees tussen iets wat vir hom taamlik aanvaarbaar is en iets wat hy nie sal kies nie.

Byvoorbeeld: Jy kan op die grond op ’n matras langs my bed slaap of jy kan in jou eie bed slaap.

As jy ’n grens stel en keuses byvoeg, voel jou kleuter veilig en bemagtig. Dit kos vasbyt om vol te hou en as hy vloerstuipe kry of weier om een van die keuses te aanvaar, moet Jonty hom maar na sy kamer toe neem en een van die keuses afdwing – die een waarvan hy die minste hou. As ’n ouer hoef jy dit net een of twee keer te doen voor jou kleuter sal ontspan en die reëls sal begin volg.

Terwyl dit dalk na outydse en baasspelerige raad klink, is dit nie – dis vandag net so van toepassing as wat dit in die verlede was. Kinders, veral kleuters, werk op hul beste as die grense duidelik en beslis en ouderdomstoepaslik is.

Die oorkoepelende boodskap is: Ongeag jou kinders se ouderdom is jy nie hul vriend nie – jy is die een wat die wêreld veilig en voorspelbaar maak. Partykeer moet ons dus maar ons stem dik maak en baasspeel, al is dit moeilik.

-Meg

Meg small Meg Faure is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap.Sy is  medeskrywer van dié topverkopers:  Baby Sense, Sleep Sense,  Feeding Sense en Your Sensory Baby. Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die beginsels wat in haar boeke bespreek word.