Dit het alles toevallig begin toe sy eendag spelt-pannekoeke (spelt is ’n soort koring) soos ’n leeu laat lyk en ’n foto daarvan op Facebook deel. Jacob en sy ma, Laieh

Dit was die kersie op die spreekwoordelike koek. Saans het Jacob vir sy ma gesê watter karakter hy die volgende dag wil sien en siedaar! Sy wens is bewaarheid. Kyk byvoorbeeld hoe spoggerig lyk Pinocchio met sy spinasiehemp, grondboontjiebotter-toebroodjiehoed, aarbei-kortbroek, peer-arms en roereier-gesiggie.
Wat Laieh se kos-telike kunswerke nog merkwaardiger maak, is dat sy ’n absolute voorstaander van gesonde en organiese voedselprodukte is. Sy maak selfs haar eie kleursel van groente of vrugte. Monsters Inc. se Mike bestaan uit onder meer spinasie, pesto-pasta en pers wortelletters.
Nie dat Jacob enige aanmoediging nodig het om van gesonde kos te hou nie. Volgens Laieh is hy gek oor groente, maar sy is seker haar kunswerke sal selfs die kieskeurigste eter aanspoor om gesond te eet. Kyk net hoe lewensgetrou is Elsa van Frozen. Sy bestaan uit knoffel en spinasie fetttuccine met beet-en-kapokaartappels asook witwortel.
Nagereg gaan ook talle se goedkeuring wegdra. Hoe klink vanieljeryspoeding met kokosneut, mango en seewier-jellie? Die karakter se naam is glo Gudetama en hy is ’n eier.
Hoeveel uiltjies is in hierdie nessie? Hoender-en-sultana-frikadelle met groentepasta vorm die grootste deel van hierdie oulike aanbieding.
Natuurlik moet Mr Potato Head ook daar wees. Dié groot gunsteling onder oud en jonk bestaan uit ’n aartappel, letters uit wortels gesny, pastrami en gestoomde krulkool.
Selfs die superster Prince is deur Laieh herskep. Aartappels, swart rys en geel beet is deel van die gereg.
Maar hoe lank gaan sy aanhou met geregte wat gemiddeld 20-35 minute neem om aanmekaar te slaan? Solank Jacob dit geniet, sê die ma, wat sedert daardie eerste pannekoek reeds saam met Jamie Oliver, Disney en Westfield gewerk het. “Hy is so opgewonde oor hierdie kunskos, maar eet in elk geval ook gewone geregte,” se Laieh.

Bronne: dailymail.co.uk, jacobsfooddiaries.com, popsugar.com