Kort voor 2016 se matriekeindeksamen begin, het Huisgenoot ’n paar uitblinkermatrieks uit die verlede genader om te hoor wat  hul topwenke aan vanjaar se klas is.

Anri Hattingh: Begin lank vooraf voorberei

Anri 20150520_201232

Anri Hattingh (20), wat in 2014 aan die Hoërskool Vryburg in Noordwes gematrikuleer het, sê wiskunde en berekeninge het haar nog altyd geprikkel. Sy was in 2014 haar provinsie se topstudent en boonop die derde beste student in die land.

“Ek het in my matriekjaar elke naweek vir die vakke geleer waaroor ek die volgende week toets skryf,” vertel die aptekerswesestudent in haar tweede jaar aan die Noordwes-Universiteit. Sy sê haar strategie is om haar leerwerk hardop vir haarself te herhaal en ou vraestelle te verslind.

“Ek het ook ekstra handboeke gebruik wat vir vakke beskikbaar is. Tog was praktiese projekte altyd vir my ’n nagmerrie. Ek het ’n goeie punt behaal, maar moes die werk bloot leer, want ek is nie goed daarmee om dit prakties toe te pas nie.”

Sy is die soort leerder wat graag lank vooraf voorberei pleks van onder druk werk, voeg sy by. Sy het byvoorbeeld reeds in September eksamenvraestelle vir haar eindeksamen uitgewerk.

“Ek dink dit is belangrik om op skool te presteer, aangesien dit vir jou deure oopmaak vir ’n studierigting wat jy wil volg.”

Presteerders kry boonop merieteafslag, sê sy. “Ek is beurse aangebied, maar het dit nie aanvaar nie omdat my ouers in staat is om vir my te betaal. Maar vir die kind wat dit nie kan bekostig nie, sou ek sê dit sal jou help. My eerste jaar was gratis aangesien ek presteer het en nou, in my tweede jaar, hoef ek net 50 persent van my studiegeld te betaal.”

Brandon Starr: Maak tyd vir jouself

x

“Ek hou nie daarvan om my eie notas te maak nie, maar dis waarskynlik net omdat my handskrif afskuwelik is,” skerts Brandon Starr (19), wat verlede jaar aan die St. Andrew-kollege op Grahamstad gematrikuleer het. Dié slimkop het in matriek sewe onderskeidings behaal en was boonop in die boonste 1 persent landwyd vir van sy vakke.

“Ek was ’n effense bleeksiel,” sê Brandon, wat vanjaar sy studie in ekonomie en regte aan die Universiteit van Kaapstad begin het. “Ek is lief vir leer.”

Hy sê die maklikste manier om hope leerwerk onder die knie te kry is om dit oor en oor te lees en die belangrikste temas vir jouself uit te lig. “Ek probeer ook om soveel moontlik vrae oor die werk op te spoor en alles uit te werk.”

Brandon doen graag dinge op die  nippertjie en sê die druk van ’n spertyd wat nader kruip, help hom fokus. “Dit help my om produktief te werk, maar ’n mens moet dit ook nie te laat los nie.”

Hy sê studente moet onthou om tydens die eksamen vir hulself tyd te maak. “Ek het in my eindeksamen aanhou oefen, my instrument bespeel en my vriende gesien. Lag ’n bietjie en geniet die lewe; dit help stres verlig.”

Brandon sê goeie skoolpunte is belangrik, en nie net omdat dit lekker is om jou skoolloopbaan op ’n hoogtepunt af te sluit nie. “Die eerste stap tot verdere opleiding is goeie punte. Tog beteken dit nie jou kanse is verby as jy nie goeie punte het nie. Jy moet te alle tye vertroue in jouself hê.”

Ruvé van Rooyen: Maak opsommings

Huisgenoot

“Ek maak deurlopend opsommings sodat ek in die eksamen net kan leer,” sê Ruvé van Rooyen (20), ’n B.Com (Geoktrooieerde Rekenmeesterskap)-student in haar tweede jaar aan die Noordwes-Universiteit. Sy was die Vrystaat se top-matrikulant nadat sy in 2014 aan die Welkom Gimnasium gematrikuleer het.

“Met leervakke probeer ek om soveel moontlik deeglik deur die werk te gaan en dit soos ’n storie te leer en vir myself op te sê. Met verstaanvakke maak ek seker ek begryp die teorie en werk vrae en somme uit. Ek werk altyd ou vraestelle laaste uit om te kyk of ek my werk ken.”

Sy verkies om lank voor haar eksamen al te begin studeer, maar moes leer om soms onder druk te werk. “Ek verkies om lank vooruit voor te berei, want genoeg slaap is belangrik en ’n mens voel rustiger en beter voorbereid.”

Ruvé glo jong mense moet op skool reeds leer om hard te werk, want op universiteit raak jou werk net moeiliker. “Harde werk is gewoontevormend.”

Sy sê ook dit help beslis om deurlopend te werk. “Al is dit net deur gereeld op te som, jou huiswerk deeglik te doen en vir jou toetse voor te berei.”

Andrew Tucker: Koester ’n positiewe ingesteldheid

2bdde2df799643ce976eaa8b003c1b60

Om ou vraestelle uit te werk is hoe hierdie mediese student te werk gaan. “Ek glo werklik dit is wat my gehelp het om so goed te vaar in my eindeksamen,” sê Andrew Tucker (19), wat  aan die Universiteit van Kaapstad studeer.

Hoewel hy weens ’n ernstige siektetoestand byna die helfte van sy matriekjaar misgeloop het, het Andrew steeds sy matriekjaar geslaag. Boonop was hy verlede jaar ons land se topmatriekleerder.

Die outo-immuunsiekte Guillain-Barré-sindroom is verlede jaar by hom gediagnoseer en Andrew was ses maande lank buite aksie. “Ek het dit selfs oorweeg om my matriekjaar oor te doen. Enigiets is moontlik as jy hard genoeg werk en ’n positiewe ingesteldheid het,” sê hy.

“Vir vakke met baie inhoud wat jy onder die knie moet kry, hou ek van kopkaarte en vloeidiagramme,” sê hy. “Ek het voor elke eksamen maklik ses vraestelle uitgewerk. Dit help omdat die formaat en soort vrae van die eindeksamen dan nie so vreemd is nie.”

Andrew glo ook dis belangrik om vir ontspanningstyd te beplan en sê hy het ná elke vraestel gaan draf om sy kop skoon te kry.

Hy sê studente moet natuurlik probeer om vooraf voor te berei, maar dat ’n mens jou tot op die  nippertjie met inligting kan verryk. “Ek het tot reg voor my eksamen of toets nog feite probeer vaslê.”

Azrah Ismail: Maak jou eie notas

3ecc3dfc-f9d8-4d35-966f-ff520f7b4733
Azrah sê om haar eie voorbeelde van ingewikkelde temas by haar leerwerk by te werk help haar om die werk te verstaan. “Ek vind as jy jou eie notas maak terwyl jy deur ’n hoofstuk werk, neem jou brein die kennis op terwyl jy lees en hoef jy dit later net vas te lê wanneer jy moet eksamen skryf.”

Die 20-jarige Kapenaar het in 2014 aan die Wynberg Girls’ High School gematrikuleer en studeer nou aan die Universiteit van Kaapstad medies. Sy was in haar matriekjaar die Wes-Kaap se topstudent in fisiese wetenskappe.

“Ek staan ook heelwat tyd daaraan af om deur ou vraestelle en voorbeeldvrae te werk omdat dit jou help om jou leerwerk toe te pas. Dit gee ’n mens ook ’n idee van watter soort vrae jy in die eksamen kan verwag.”

Nes Andrew leer Azrah kort voor haar eksamen doeltreffender. Sy sê die druk motiveer haar. “Maar ek maak altyd seker ek is reeds gemaklik met die leerwerk kort voor my eksamen sodat ek nie vasbrand en nie deur al die inhoud kom nie.”

Sy sê studente moenie vergeet hoe belangrik hul emosionele en fisieke gesondheid is nie, selfs al wil hulle graag presteer. “As jy oorweldig voel, moet jy eenvoudig ’n blaaskans vat,” sê sy. As ’n mens oorweldig begin raak, is jy gewoonlik in elk geval teenproduktief omdat jy so gestres is.

“Al is jy gedruk vir tyd, is dit belangrik om kort tye af te neem en van die stres en angs ontslae te raak. Dit sal jou help om weer jou kop op die regte plek te kry om verder te studeer.”

Azrah voel ook dis belangrik om te onthou elke student se doelwitte verskil. “Om te presteer kan vir verskillende studente verskillende betekenisse hê. Elke leerder het sy eie ideale en moet daaraan werk.”