Is jy moeg van dieselfde vervelige Paaseiersoektog saam met jou kinders jaar ná jaar?

  1. Maak die soektog meer opwindende met leidraadkaarte met oulike rympies op. Skryf die rympies op kleurvolle kaarte en steek dit weg as leidrade om vir die kinders aan te dui of hulle naby of baie ver van die lekkergoed af is.
  2. Is daar enigiets ouliker as dat die Paashaas self die eiersoektog lei? Kleintjies sal in hul noppies wees wanneer hulle opstaantyd sien die Paashaas het vir hulle ’n briefie gelos en ’n paar haasvoetspore wys in die rigting waar die eiers versteek is.
  3. Sorg dat die sjokolade-honger kinders hulle nie beseer deur oor heinings te klim agter lekkergoed aan nie deur grense vir die Paaseiersoektog te stel. Sê byvoorbeeld vir die kinders hulle moet tussen die huis en die swembad se omheining bly of nie verder as die oprit gaan nie.
  4. ’n Slim manier om die soektog opwindender te maak, is om dit in ’n skattejag te omskep. Doen dit deur die jagters met leidrade van die een wegsteekplek (en klompie eiers) na die volgende te lei en eindig af met ’n groter prys van eiers of ander verrassings.
  5. Met dié dat jou kinders Paasfees so baie sjokolade eet, kan jy dit oorweeg om verskillende en opwindende pryse by die soektog te voeg. 'n Geskenk soos ’n inkleurboek of klein speelding sal die kinders ’n bietjie langer as ’n sjokolade-eier vermaak.
  6. Dit is die moeite werd om ’n aantekening te maak van hoeveel eiers jy wegsteek en waar. Dit is glad nie lekker om weke later op ’n gesmelte Paaseier onder die rusbank af te kom nie. Jy kan selfs vir die kinders ’n kaart teken om doodseker te maak hullle spoor al die versteekte eiers op.
  7. As jy ’n groot groep kinders van verskillende ouderdomme het, verdeel die area in sones vir die onderskeie ouderdomsgroepe. Kies moeiliker wegsteekplekke vir die ouer groep en reël ’n makliker soektog vir die jongeres.
  8. Nog ’n slim manier om seker te maak die ouer kinders raap nie al die lekkergoed op nie, is verskillende kleure eiers vir verskillende ouderdomsgroepe. Gee vir die eiers wat jy wegsteek ’n kleurkode volgens ouderdom sodat die kleintjies ’n sekere kleur soek terwyl die ouer kinders ’n ander kleur soek. Jy kan selfs die seuns en meisies verskillende kleure eiers laat soek.
  9. Dit is altyd moeilik om vir kleiner kinders die Paaseiersoektog uitdagend en boeiend te maak. Doen dit deur ’n eenvoudige lawwe aktiwiteit (soos om ’n liedjie te sing of ’n dansie uit te voer) by elke eier te voeg en te vra hulle doen dit voor hule die volgende eier gaan soek. Dit kan iets wees soos om Twinkle, Twinkle Little Star te sing of ’n wawiel te probeer doen.
  10. Jy kan die Paaseiersoektog afsluit deur jou kinders ’n piñata vol sjokolade te laat breek. Die piñata is ook ideaal vir kleiner kinders wat dalk nog nie verstaan hoe om eiers te soek nie, maar ook in die pret wil deel.

Saamgestel deur Lindsay de Freitas

 ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot