Jou kredietkaart ly nog onder al die vakansieuitgawes en hier is dit al weer tyd vir die volgende sarsie: Die kinders moet terug skool toe. Probeer geld spaar en terselfdertyd jou kinders leer om verantwoordelike geldbesluite te neem.

  • Begin deur ’n begroting op te stel en laat die ouer kinders saam met jou uitwerk hoe julle daarby kan hou. Verduidelik hoeveel jy kan bestee en wat die implikasies (soos minder flieks) sal wees as julle die begrote bedrag oorskry. Stel saam ’n lys op van alles wat gekoop moet word. As dit by skryfbehoeftes en boeke kom, moenie afwyk van die lys wat die skool verskaf en onnodighede koop nie. Kyk ook wat nog bruikbaar is van die vorige kwartaal, byvoorbeeld lêers.

  • Los jonger kinders by die huis om tyd (en senuwees) te spaar, maar neem ouer kinders saam winkels toe om te help om pryse te vergelyk en besluite te neem.

  • As jou kinders aandring op ’n luuksheid soos tennisskoene met ’n duur handelsmerk, laat hulle uitwerk hoe dit in die begroting gaan pas en waar elders ingekort kan word. Of laat hulle die verskil in prys tussen ’n paar gewone skoene en dié wat hulle begeer, uit hul sakgeld betaal. Onthou: Jy ontsê jou kinders baie as jy hulle alles gee wat hul hart begeer. Hulle moet ook die waarde van geld en finansiële oordeelsvermoë leer. Kinders sal beter vir duur items sorg as hulle verstaan hoeveel dit werklik kos.

  • Hou by die begroting. Sit kontant opsy en gebruik dit verkieslik vir jul inkopies – met ’n kredietkaart gee jy maklik meer uit.

  • Gebruikte goedere kan ook help om jou begroting te laat klop. Wees proaktief – gaan hoor by ouer buurkinders of julle nie hul boeke, sakrekenaar en selfs persoonlike rekenaar kan koop nie. Verkoop ou skoolklere om jul begroting aan te vul.

  • Koop by die groot maat, veral plastieksakkies vir lêers.

  • Die beste tyd om skoolbenodigdhede te koop is die vorige jaar en nie wanneer die skares inkopiesentrums vol pak en winkelbase hul pryse opstoot nie. Benut uitverkopings om jou voorraad vir die volgende skooljaar aan te vul.

  • Koop skoolklere effens groter sodat dit langer pas.

  • Bou ’n voorraad skryfbehoefte op vir daardie kere dat die kinders skielik laataand iets nodig kry en jy dit ten duurste by ’n geriefswinkel moet gaan koop. Vul dit aan met gratis penne, notaboeke en ander bemarkingsmateriaal van konferensies en hotelle.

  • Soek winskopies. Jy hoef nie noodwendig duur handelsmerke te koop nie, maar onthou soms is goedkoop duur koop. Dit geld veral rugsakke en inkleurpotlode – koop gehalte wat langer sal hou. Kies ook stewige maar buigbare liniale wat nie so maklik breek nie en lêers met plastieksakkies wat ’n duursame, harde plastiekomslag het.

  • Baie skole bied ’n maandelikse aftrekorder om skoolgeld te betaal, maar dit kan duurder uitwerk as die enkelbedrag. Moenie skaam wees om groter afslag te vra as jy ’n halwe hokkiespan het wat na dieselfde skool gaan nie.

  • Wees snoep met die snoepie: Dink vooruit om te sorg dat daar altyd iets vir die kosblik in die kas is. Koop kartonnetjies vrugtesap en muesli- en droëvrugtestafies by die groot maat.
  • Voor jy honderde rande opdok  vir ’n naskoolse aktiwiteit, vra dat jou kinders eers ’n sessie of twee bywoon om seker te maak hulle is geesdriftig daaroor. Sommige gesinne het ’n reël dat kinders tot een of twee aktiwiteite beperk word.

Helena Wasserman