Binnekort gaan papier ál skaarser in Suid-Afrika se klaskamers word.

Die Gautengse Onderwysdepartement het onlangs die tweede fase van hul e-leer-inisiatief van stapel gestuur, berig EWN.

Daarvolgens gaan die leerders van meer as 300 openbare skole in die provinsie tablette ontvang.

Die inisiatief vorm ook deel van die departement se Wired for Life-veldtog waarin gr. 12-leerders van oor die provinsie tablette met onbeperkte datatoegang ontvang.

Die onderwysers by hierdie skole ontvang ook almal skootrekenaars en die klaskamers word toegerus met nuwe slimborde waarop e-leer maklik toegepas kan word.

Die LUR vir onderwys in Gauteng, Panyaza Lesufi, het duisende leerders by ’n geleentheid by die Grace-Bybelskool in Soweto toegespreek.

Hy het die departement van onderwys se verbintenis om in Suid-Afrika se jeug te belê, bevestig.

“Ek is moeg daarvoor om leerders te sien wat werkloos gaan wees. Ek is moeg daarvoor om jong meisies te sien wat voel ’n troeteloompie is hul toekoms,” het Panyaza gesê.

Hy het dit duidelik gemaak dat die tablette en data net vir opvoedkundige doeleindes ingespan mag word. “Julle mag nie op Facebook gaan nie, en ook nie op WhatsApp nie,” het hy streng gesê.

Onderwysers van die onderskeie skole het die afgelope wintervakansie werkwinkels bygewoon om hulle voor te berei op die nuwe, papierlose manier van skoolhou.

Hierdie nuwe inisiatief vind voorlopig net in Gauteng plaas. Panyaza het gesê die onderwysdepartement hier het reeds amper R2 biljoen aan die projek bestee en beoog om tot R37 biljoen daarop uit te gee.

Bronne: EWN; Mail & Guardian