Dr. Angela Duckworth is ’n sielkundige navorser aan die Universiteit van Pennsilvanië wat die “sielkunde van sukses” bestudeer. Op ’n TED-konferensie-praatjie vroeër vanjaar sê sy as mense wil suksesvol wees in hul lewe, is daar net een belangrike ding wat hulle nodig het: “grit”. In Afrikaans kan ons dit noem deursettingsvermoë, vasbyt, deurdruk of sommer net op jou tande byt.

Voor jy verder lees moet jy weet: voor sy ’n sielkundige geword het, was Angela ’n wiskundeonderwyser. Dis vandaar dat sy begin belangstel het in dit wat ’n kind suksesvol maak op skool en eindelik in die lewe.

“Ná vyf jaar van klas gee was ek gefrustreer daardeur dat ek nie die kinders kon kry om meer tyd aan hul werk af te staan nie,” vertel sy. “En ek het opgelet dat IK nie al verskil was tussen die beste en swakste kinders in my klas nie.”

Sy wou weet wat dit is wat sommige mense vorentoe druk in die lewe, ongeag hul intelligensie. Sy het na mense in verskillende situasies gaan kyk en sê haar hoofvraag was altyd: Wie is hier suksesvol en waarom?

Sy is na ’n militêre opleidingsfasiliteit, na die Amerikaanse nasionale spelwedstryd, en sy het selfs verkoopsmense en onderwysers wat in gevaarlike buurte woon, bestudeer om te kyk wie bly in, wie val uit en wie vaar die beste.

“In al daardie verkillende omgewings was daar een karaktereienskap wat uitgestaan het as ’n voorspeller van sukses. Dit was nie sosiale intelligensie nie, dit was nie ’n mooi voorkoms of liggaamsgesondheid nie en ook nie IK nie. Dit was vasbyt,” sê Angela in haar praatjie.

Maar wat beteken dit regtig om op jou tande te byt?

“Vasbyt beteken passie en deursettingsvermoë met baie langtermyn-doelstellings. Dit is om stamina te hê, om te onthou wat jou idee vir jou toekom is, dag ná dag. Nie net ’n week of ’n maand lank nie, maar jare aaneen. En om regtig hard te werk om daardie toekoms ’n werklikheid te maak. Vasbyt is om die lewe te leef asof dit ’n maraton is, nie ’n naelloop nie.”

Angela het ook na skole gegaan en gekyk of dieselfde vir skoolkinders geld. Hiervoor het sy ’n “vasbyt-vraelys” opgestel waarmee sy mense se “vasbyt-uitslag” kon bepaal op ’n skaal van een (nie baie deursettingsvermoë nie) tot vyf (baie deursettingsvermoë). Sy het gevind nie eens ’n lae huishoudelike inkomste kon ’n kind wat weet van deurdruk, kniehalter nie.

“Kinders wat ’n hoë vasbyt-uitslag gehad het, was opmerklik meer geneig om skool klaar te maak – selfs toe ek hulle aan elke moontlike ander ding gemeet het, insluitend gesinsinkomste, aanlegtoets-uitslae of hoe veilig hulle by die skool gevoel het.”

Nog interessanter was haar bevinding oor talent: “Talent laat jou nie vasbyt of deurdruk nie. Ons data wys baie duidelik dat daar baie talentvolle mense is wat nie hou by hul doelstellings nie.  Inteendeel, ons navorsing wys vasbytvermoëns is dikwels onverwant of staan selfs in ’n omgekeerde verhouding tot talent.”

Maar wat nou van mense wat nié hierdie deursettingsvermoë toon nie?

“Elke dag vra onderwysers my: Hoe bou ek my kinders se motivering om vas te byt en deur te druk? Die eerlike antwoord is, ek weet nie,” sê Angela in haar praatjie. Maar sy noem wel een ding: “growth mindset”, of jou opvatting van groei.  Dit is ’n idee wat aan die Universiteit van Stanford ontwikkel is en handel oor die wete dat jou vermoë om te leer nie vasgesteld is nie, maar kan groei en verander hoe meer jy probeer. “Wanneer kinders lees en leer oor die brein en hoe dit verander en groei as jy dit aan uitdagings blootstel, is hulle baie meer geneig om aan te hou probeer nadat hulle foute begaan het, want hulle besef dat mislukking nie blywend is nie.”

Angela se toekomstige studies gaan konsentreer op hoe ’n mens meer deursettingsvermoë kan kry, maar sy sê dit is nie genoeg nie. Ouers en onderwysers en ons almal moet maniere kry waarop ons ons eie vasbytvermoëns kan verbeter.

“Ons moet ons beste idees en sterkste intuïsies volg, toets en bereid wees om te misluk, verkeerd te wees en van vooraf te begin met die lesse wat ons geleer het. Met ander woorde, ons moet vasbyt in die stryd om ons kinders meer deursettingsvermoë te gee.”

Om jou eie “vasbyt-uitslag” te kry, kan jy die toets op Angela se blad op die webtuiste van die Universiteit van Pennsilvanië gaan doen. Klik op die skakel aan die regterkant (“get your grit score”) en volg die aanwysings.

Jy kan Angela se TED-praatjie gaan kyk en meer lees oor die TED-konferensie by hierdie skakel:

Dalena Theron