Ons kenners gee raad met ’n probleemvel.

Herinner hulle dat hulle nie alleen is nie:

“Sowat 80 persent van tieners sukkel met een of ander vorm van aknee,” sê dr. Ian Webster, ’n dermatoloog van Kaapstad. Hy sê dis oor die hormoonveranderings wat ’n mens tydens puberteit ondergaan. “Genetiese faktore en jou hormoonvlakke speel die grootste rol.”

Klop die aknee so:

“Party velprobleme vereis ’n kenner se hulp en ander kan jy self oplos,” sê Melissa Frantz, ’n skoonheidsterapeut van Kaapstad. Hier is die algemeenste velprobleme vir tieners – en wat julle daaraan kan doen.

Droë vel:

’n Gebrek aan vog maak die vel meer vatbaar vir puisies. Gebruik ’n wasmiddel met ’n roombasis, sê Ian. Melissa stem saam en sê jonger, sensitiewe velle vind baat by organiese eerder as chemiese wasmiddels. “Drink ook genoeg water en gebruik ’n geurlose vogroom,” sê Ian. Melissa voeg by jou tiener moet meer vogroom in die winter as in die somer gebruik omdat die koue lug jou vel droër maak.

Wit- en swartkoppies: 

Gebruik ’n gesigroom wat vitamien A bevat, sê Ian. Jy kan ook jou apteker of dokter vra vir rome wat spesiaal gemaak is om dit te voorkom. Melissa sê anders as puisies moet witkoppies en swartkoppies uitgedruk word. “Besoek ’n velterapeut en vra vir ’n gesigsbehandeling om dit te doen.”

’n Olierige vel:

’n Olierige vel vind baat by ’n gesigwasmiddel wat skuim as jy dit aanwend, sê Ian. “As jy die probleem van binne wil oplos, is medikasie met isotretinoin, soos Oratane of Roaccutane, nuttig. Of hormoonbehandelings soos ’n voorbehoedmiddel vir meisies.”

Melissa beveel ook ’n gesigwasmiddel met ’n jelbasis aan.

’n Enkele, sigbare puisie:

Sê aan jou tiener hulle moet die versoeking weerstaan om te druk, karring en peuter, waarsku albei. “As jy heeltyd daaraan karring, kan jy die bakterieë na ander dele van jou gesig versprei en meer puisies veroorsaak,” sê Ian.

“As hulle dit moet uitdruk, moet jou hande skoon wees.”

Melissa stel voor hulle smeer ’n salf aan wat die rooiheid en inflammasie verminder.

Ernstige aknee: 

“Daar is genoeg goeie middels daarbuite; niemand hoef deesdae met permanente skade weens aknee te sit nie,” sê Ian.

“Besoek jou dokter of ’n dermatoloog en kry kundige hulp voor jy littekens kry.”

Wenke vir seuns wat begin skeer:

Ouens met krulhare is meer geneig om puisies te kry wat uitkom nadat hulle geskeer het, sê Ian. “Hierdie puisies word soms met aknee verwar, maar nadat jy geskeer het, krul die haar en druk deur die vel, wat inflammasie veroorsaak.”

Melissa beveel aan jou tiener skrop hul vel een keer per week. “Hulle kan hul eie skropmiddel maak deur bruinsuiker met ’n bietjie klapper- of druiwepitolie te meng,” sê sy.

Ian sê ’n skoon, skerp skeermeslem en antibakteriese salf kan ook help.

Eet jou vel mooier:

Al speel hormone die grootste rol, kan ’n suikergelaaide dieet en een met baie verfynde koolhidrate veroorsaak dat jou vel meer sebum (olie) vervaardig, wat aknee kan laat opvlam, sê Ian. Te veel melk, veral afgeroomde melk, kan ook velprobleme vererger.

Doen dit op die natuurlike manier:

Albei kenners stem saam medikasie en spesiaal geformuleerde produkte kan jou vel help, maar daar is ook natuurlike raad.

  • ’n Kort tydjie in die son kan erge aknee verminder.
  • ’n Sink- of Omega-3-aanvulling kan aknee laat afneem.
  • Maak ’n tuisgemaakte masker met avokadopeer, jogurt en eiers.
  • Drink genoeg water om jou vel bevog te hou.

- Mieke Vlok