Daarom het Heather, van Wisconsin in Amerika, ’n leeftyd se herinneringe begin skep deur ’n reeks kaartjies te skryf waarin haar vierjarige dogter, Brianna, kan troos vind wanneer sy sterf.

Hoewel sy hoop sy leef nog om haar dogter op haar eerste dag by die kleuterskool af te sien, weet Heather daar is nie veel hoop dat sy vir veel ander spesiale geleenthede daar sal wees nie.

“Ek is net nog nie gereed om te groet nie. Dis pynlik om te weet hulle gaan hartseer wees en ek gaan nie daar wees om hulle te troos nie,” het sy aan ABC News gesê.

Eendag, wanneer Heather nie meer daar is nie, sal Brianna haar ma se raad en herinneringe kan lees wanneer sy belangrike mylpale bereik soos verjaardae, ’’n gradeplegtigheid en selfs wanneer sy haar eerste baba het.

Fase 2-borskanker is in April 2013 by Heather gediagnoseer. Teen laat verlede jaar het dit na haar lewer en ander dele van haar liggaam versprei en is dit tot fase 4 verklaar. “As jy eers fase 4 bereik het, is daar nie ’n kuur nie.” Sy het verlede jaar ’n GoFundMe-blad begin om geld in te samel om vir haar man en dogter behoorlik te groet. Sy hoop om ’n gesinsbesoek aan Disney World te kan bekostig voor sy sterf. “Ek wil hê sy moet altyd weet ek het alles moontlik gedoen om hier te kan wees.” Bronne: nydailynews.com, nbc15.com