Ons almal ken daai rympie tydens 'n lang rit in die motor: Hoe ver nog? Hier is aktiwiteite om die kroos in die motor besig te hou. NOMMERPLAATSPELETJIES

Motor nommerplaat

  • Tel van 0 tot 100 (of van 100 tot 0) in die regte volgorde deur die syfers op motor-registrasieplate te bekyk. Ouer kinders kan in twees, vywe of tiene tel.
  • Soek die 26 letters van die alfabet in volgorde. Deel julself in spanne op en laat een span vanA-Z soek en die ander van Z-A. Die span wat eerste klaar is, wen.
  • Vorm woorde of frases deur al die letters op ’n nommerplaat in die regte volgorde te gebruik. Byvoorbeeld: Die MPR van ’n nommerplaat soos MPR 123 FS kan die woord “mampoer” of die frase “my pragtige rok” vorm. Dié speletjie werk beter in sommige provinsies as ander!
  • Skryf ’n lys woorde neer en “spel” elke woord nou deur die letters daarvan in die regte volgorde op nommerplate te soek.
  • Kyk of julle binne ’n uur ’n nommerplaat uit elkeen van die nege provinsies kan kry. Hoe seldsamer die nommerplaat in jul omgewing (byvoorbeeld ’n KZN-nommerplaat in die Kaap), hoe meer punte verdien die een wat die nommerplaat raaksien. Die een met die meeste punte wen.
SKATTEJAG Ja, julle kan plat op jul sitvlakke ’n skattejag hou! Maak vooraf soekblokke: bladsye met prente op van dinge wat julle alles op die reis kan sien – en pak ’n paar vir elke kind in.

Kinders met soekborde in kar

Julle het nodig:

* soekblok-papiere (maak jul eie; kyk na ons voorbeeld hieronder)

* aanknipbord

* kleurkryte

* plakkers (opsioneel)

[caption id="attachment_63223" align="alignnone" width="488"]Illustrasies wat afgemerk kan word Foto bo: ’n Voorbeeld van ’n soekblok-papier.[/caption] Maak so Elke kind het ’n soekblokpapier wat op ’n bord vasgeknip is. Sodra hy of sy iets raaksien wat op die soekblok verskyn, kan hulle ’n plakker op die betrokke prentjie plak of dit inkleur. Die een wie se soekblok eerste vol is, wen. WENKE

  • Idees vir prente as julle per motor, bus of trein reis Plaasimplemente, landerye, diere, motors van spesifieke modelle/kleure/registrasienommers, winkel-logo’s, bekende geboue, padtekens.
  • Idees vir prente as julle per vliegtuig reis Iemand met hare in twee kleure, sakrekenaar, iemand met ’n uniform, ’n pa met ’n baba, ronde brilrame, nagereg, aktetas, koeldrankblikkie, iPod,iemand wat slaap, kussing, wolk, berg, dam, selfoon, see, rooi das
VILTBORD Dis ’n wonderlike speelding want ma hoef nie agtertoe te buk om speelgoed op te tel wat afgeval het nie.

Olifant en kameel op viltbord

Julle het nodig:

* groot kartonbord

* stroke vilt in verskillende kleure

* maskeerband

* skêr

Maak so

1 Trek die karton met vilt oor, trek styf en plak agter met maskeerband vas.

2 Knip allerhande vorms uit die vilt soos diertjies, ’n boom en sy appeltjies, dele van ’n gesig, ’n huis of kasteel met aparte deure, vensters en torings, ensovoorts. Hieronder is inspirasie vir diervorms.

3 Nou kan die kinders heerlik sit en prentjies plak en viltstories vertel. [caption id="attachment_63219" align="alignnone" width="430"]Patrone vir viltdiertjies Maak jou viltdiertjies so.[/caption]   KARKRIEKET

Elkeen in die motor kry ’n kans om te kolf. Om punte aan te teken, tel julle die waardes bymekaar van die voertuie waarby julle verbyry. Die puntetelling werk so:

  • Motor: 1 lopie
  • Motor met ’n sleepwaentjie: 2 lopies
  • Bus of vragmotor: 4 lopies
  • Karavaan: 6 lopies
Die kolwer hou aan kolf tot ’n rooi motor verbykom, en dan is hy uit en kry die volgende kolwer ’n beurt. Sodra iemand 100 lopies het, is die speletjie verby. Variasie Laat elke speler ’n motorkleur kies. As jy jou kleur sien, kry jy ’n punt. Sodra jy ’n karavaan of sleepwaentjie sien, verloor jy ’n punt. Polisiemotors, brandweerwaens en ambulanse tel elkeen 5 punte.

ctx0417_2725_eastercampaign_600x450_digitorial_huisegenoot