large (16)

Maak ’n sukses van die jaar

  • Beplan. Dit maak nie saak of jy dit weekliks of daagliks doen nie. Stel ’n rooster op wat alles insluit wat jy moet doen, van akademie en sport tot sosiale bedrywighede en gesinstyd. Bestuur jou tyd uurliks as dit die beste vir jou werk.
  • Mik vir jou eie persoonlike beste en probeer dit dan klop. Jy wedywer net met jouself, niemand anders nie.
  • Moenie die jaar met ’n positiewe houding afskop en dit later verloor nie; behou dit regdeur die jaar. Maak seker jy handhaaf ’n goeie balans tussen skoolwerk en ontspanning.
  • Hou verby die komplikasies. Vriendskappe en verhoudings is ’n belangrike deel van ons lewe. Maar as dit inmeng met ander belangrike dinge soos skool, is dit tyd om te herprioritiseer. Fokus op jou behoeftes.

Tyd vir klas

  • Wees voorbereid en betyds. Goeie voorbereiding beteken jy het minder om in te haal in die eksamentyd.
  • Los die selfoon. Gebruik jou tyd in die klas om te fokus op wat belangrik is. Daar is hope tyd ná skool om met jou vriende te gesels of op sosiale webtuistes te kuier.
  • Moenie jou onnies of maats vies maak nie. Bly in hul goeie boekies. Onthou, verhoudings is ’n belegging – mense sal jou goed en met respek behandel as jy dieselfde doen.

Op jou mooiste

  • Volg ’n gereelde oefenroetine. Oefening stel endorfiene vry, wat jou gelukkig maak. As jy goed voel, sal jy goed lyk.
  • Pamperlang jouself. Doen ’n gesigbehandeling (ja, ouens kan dit ook doen!), manikuur en pedikuur tuis.
  • Laat knip jou hare – ’n nuwe kapsel beteken ’n splinternuwe jy.

Probeer iets nuuts

Vind uit watter buitemuurse aktiwiteite daar by jou skool is. Kyk op kennisgewingborde, praat met klasmaats, vra jou onderwysers en kyk in jou plaaslike koerant wat jy alles kan doen.

  • Oorweeg dit om ’n studieleier te kry wat klaar die graad geslaag het waarmee jy nou begin. Hul vraestelle en take is klaar gemerk en hulle weet waarskynlik wat die onderwyser van jou verwag.
  • Bied aan om iemand in ’n graad onder jou te help. Dit voel goed om iets terug te gee, dit lyk goed op jou CV en versterk net wat jy klaar weet.

Pak gesonde eetgoed

  • Dik snye komkommer met ’n hoop roomkaas is lekker en gesond. Wortelstokkies en kersietamaties is ook ’n gesonde middagete.
  • Vrugteslaai! Meng ’n verskeidenheid vrugte vir ’n heerlike somerhappie.
  • Los die gaskoeldranke en drink baie water – so sal jy ook geld spaar.
  • Neute, pampoensade en droëvrugte is voedsaam en lekker en sal jou langer vol hou.

Vaar so beter in eksamens

  • Moenie wag vir eksamentyd om ’n aksieplan te bedink nie. Maak goeie studiegewoontes van die begin af ’n gewoonte– hersien elke dag jou huiswerk. Dan hoef jy nie in die eksamentyd alles haastig te probeer leer en onthou nie.
  • Vind oplossings vir probleme soos dit opduik. Moenie wag tot die helfte van die jaar verby is nie. Vra onmiddellik jou onderwyser as jy iets nie verstaan nie – anders jy gaan net ál meer verward raak soos die jaar verbygaan.
  • Oefen. Die gesegde “hoe meer jy oefen, hoe gelukkiger is jy” is die beste raad vir eksamens. Watter beter manier is daar om vir ’n eksamen voor te berei as om jouself in eksamen-omstandighede te toets? Stel vraestelle op oor nuwe werk en toets jouself. Kyk hoeveel jy weet voor die regte eksamen aanbreek.

Ruk jou skoolsak reg

  • Pak: Gesonde happies
  • Los: Skyfies en sjokolade

  • Pak: Noodsaaklike toiletware
  • Los: Grimering

  • Pak: Belangrike dokumente (vir onvoorsiene noodgevalle)
  • Los: Persoonlike dagboek (los dit by die huis)

  • Pak: Skooldagboek en kalender
  • Los: Onnodige plaknotas

-        Faiza Mallick

Ekstra bronne: psychologytoday.com, kidspot.com.au