Maar nie alle babas gee so mooi hul samewerking as dit by hul slaaprooster kom nie.

Nou het nuwe navorsing bevind hul slaapsessies is nie net goed omdat dit die ouers help kophou nie, maar dit hou ook voordele vir ’n baba se taalvaardighede in. 

Wetenskaplikes by die Max Planck-instituut vir menslike kognitiewe- en breinwetenskappe in Duitsland het ontdek slaap help met die belangrike proses van betekenis aan woorde gee sodat hulle dit nie net as klanke waarneem nie. Daar is ook bevind babas so jonk as ses maande kan dinge met mekaar in verband bring, en dis jonger as wat voorheen geglo is.

“Ons uitslae toon kinders behou die ware betekenis van woorde in hul langtermyngeheue heelwat vroeër as wat ons aanvaar het,” het dr. Angela Friederici, ’n senior navorser, gesê.

“Hoewel die breinstrukture wat vir hierdie tipe geheue relevant is nie volkome volwasse is nie, kan dit reeds tot ’n onderskeibare mate gebruik word.”

Navorsers het tot dié slotsom gekom nadat hulle ’n groep babas van ses tot agt maande oud bekendgestel het aan “fantasie-voorwerpe” met fantasie-name soos Bofel en Zuser. Dit was sodat die babas nie toegang tot enige bestaande kennis kon hê nie.  

Daarna is ’n verskeidenheid van die voorwerpe aan hulle gewys, voorwerpe wat in vorm of kleur verskil, maar steeds soortgelyk was, en hulle is op dieselfde naam genoem. Die babas kon nie die nuwe voorwerpe met die ou naam assosieer nie, maar nadat hulle vir 50 minute of langer geslaap het, het hul prestasie verbeter en die brein kon onderskei tussen die regte en die verkeerde beskrywing vir ’n nuwe voorwerp.

“Die babas in ons studie het soveel inligting ontvang as wat hulle gewoonlik binne ’n langer tydperk inneem,” sê dr. Manuela Friedrich, die studieleier.

“Slegs as hulle slaap, wanneer die kind se brein van die buitewêreld ontkoppel, kan dit belangrike verbande tussen dinge verwerk en bêre. Vroeë kognitiewe en taalkundige vermoëns kan slegs behoorlik ontwikkel in die interaksie tussen wakker-verkenning en die ordeningsproses terwyl hulle slaap.”

Die bevindings is in Current Biology gepubliseer.