Volgens ’n onlangse navorsingstuk kan hulle moontlik soggens vroeër opstaan as hulle saans toestelle en kunsmatige lig vermy, en ook meer tyd in die buitelug deurbring.

Navorsers aan die Universiteit van Surrey en die Harvard-mediese skool glo kunsmatige beligting speel ’n groot rol by die feit dat Westerse tieners laat uit die vere kom.

Hulle het ’n studie uitgevoer waarby 250 000 Europeërs en twee stamme uit Afrika betrokke was, en hul slaapgewoontes vergelyk. Hulle het vasgestel tieners is die ouderdomsgroep wat die meeste deur lig beïnvloed word en dat blou ligskerms en kunsmatige lig hul biologiese horlosies beïnvloed.

Die jonger geslagte in die jagter-versamelaarstamme, wat hul tyd in die buitelug deurbring en gewoond is aan natuurlike lig, staan maklik teen dagbreek op.

Dr. Anne Skeldon, die hoofskrywer, het daarop gewys die studie bewys tieners is nie “geprogrammeer” om laat op te staan nie, en dat stappe soos om hul foon en tablet saans te bêre, kan help om opstaan en studeer in die oggend makliker te maak.

“Tieners sien nie veel natuurlike lig nie, want hulle is heeldag by die skool. Aangesien dit vir hulle makliker is as vir ander ouderdomsgroepe om laat te gaan slaap, hou hulle hul ligte aan en gebruik slimfone en tablette tot in die laatnagure,” het sy die bevindings verduidelik. Dit is in die tydfskrif Scientific Reports gepubliseer.

“Vorige navorsingstudies het aangedui blou lig uit hierdie toestelle het ’n besonder sterk uitwerking op ’n mens se biologiese horlosie. As hierdie tieners jagter-versamelaars was, en nie elke aand aan hierdie kunsmatige lig blootgestel was nie, sou nie een van hulle later as ander mense slaap nie.”

Hierdie studie volg ná ’n studie wat verlede jaar deur King’s College in Londen en die Universiteit van Cardiff van stapel gestuur is en wat ouers waarsku om alle elektriese toestelle uit kinders se kamers te verwyder ten einde ’n goeie nagrus te verseker.

© Cover Media