Was die eerste skooldag gister ’n tranedal en vandag ook? Daar’s waarskynlik ’n goeie rede waarom jou kleuter skool-skeidingsangs het, sê ons ouerskapsblogger Meg Faure.

[caption id="attachment_64502" align="alignnone" width="600"]Huilende seuntjie, skool toe vol angs Foto: Tanya Little op Flickr[/caption]

BAIE van ons se kinders is vandeesweek terug skool toe, en ek was gefassineer deur al die verhale van trane en angstigheid. Ek onthou nog hoe my eie kleingoed op daardie eerste dag aan my rok vasgeklou en my gesmeek het om hulle nie daar te los nie, terwyl die knop in my keel ál groter geword het.

Dis ’n aaklige gevoel en glad nie ongewoon by kleuters en voorskoolse kinders nie. Ek weet nie wie die meeste ly nie – ma of kind.

Hier is hoe ek skool-skeidingsangs beskou:

Ma se rol

My aanvoeling sê ma’s speel ’n groter rol in skool-skeidingsangs as wat ’n mens dink. Ek glo ons stuur dalk ’n subtiele boodskap aan ons kleinding uit in die dae voor die groot gebeurtenis. Die oggend waarop sy skool toe moet gaan, lyk jy dalk angstig of maak jy net een gemaak-vrolike opmerking te veel, en jou voorskoolse kind sien dadelik deur jou bravade.

Ek dink die feit dat oudste kinders meer aan skool-skeidingsangs as jonger kinders ly, ondersteun my teorie dat ma’s ’n groter aandeel in skeidingsangs het as wat hulle besef – met die tweede kind is dit vir ma’s net soveel makliker.

Jou kind se geslag

Kry seuntjies swaarder as meisies of was dit net my ervaring? My dogters het skool toe gehuppel en was van dag een af mal oor die sosiale deel daarvan. Met my oudste (ja, dit was deels ook my skuld) – ’n seun – was dit ’n ander storie. Ek dink dit kos seuns net daardie bietjie langer om te ontspan wanneer mamma nie naby is nie.

Jou kind se ouderdom

As jy gereed is, is jy gereed. Dis dalk nie die beste plan om jou 18 maande oue baba skool toe te stuur as jy dit nog nie hoef te doen nie, veral as hy ’n bietjie van ’n angstige kind is. Kinders vaar beter as hulle effens ouer en gereed is.

Jou kind se persoonlikheid

Sonder twyfel het die feit dat party kinders swaarder as ander kry, niks met ma, ouderdom of geslag te doen nie – dis net hul persoonlikheid.

In Jou Nuwe Baba (Penguin) gesels ek oor die vier sensoriese persoonlikhede van babas. Dit sal die Stadig-om-te-ontdooi-baba langer kos om by ’n nuwe roetine, omgewing en persoon aan te pas.Hierdie kleingoed is meer klouerig en voel ’n hele paar weke lank angstig oor skool toe gaan voor hulle besluit dit is inderdaad ’n veilige omgewing.

Voorblad van Jou nuwe baba deur Meg Faure-  Meg

Meg small Meg Faure is ’n arbeidsterapeut met ’n belangstelling in babas, veral die wat ekstra moeilik is of sukkel om te slaap. Sy is  medeskrywer van dié topverkopers:  Koester Jou baba, Slaap Kindjie Slaap, Sinvolle voeding en Jou Nuwe Baba. Meg het ook ’n versameling Baby Sense-produkte ontwerp na aanleiding van die beginsels wat in haar boeke bespreek word.