littl

Elke ballon het die naam van ’n geliefde op gehad. Die geleentheid was deel van ’n geldinsamelingsprojek, want hierdie nieregeringsorganisasie is bitterlik afhanklik van eksterne bydraes om die pot aan die kook te hou.

“Ons kry geen subsidie by die staat nie,” vertel Eurika Swart, sedert Januarie die sekretaresse by Little Leaps, maar reeds die afgelope twee jaar aktief by die skool betrokke.

En dis ’n duur affêre om ’n skool vir outistiese leerders met hul unieke behoeftes te bestuur, veral een wat net die beste opvoeding aan elk van hul sowat 50 leerders wil bied.

Outisme is ’n aangebore neuro-ontwikkelingsiekte wat dié kinders se sosiale gedrag, taal en kognitiewe vaardighede beïnvloed. “Dit word gewoonlik van sowat twee jaar oud af by kinders gediagnoseer,” sê Eurika, wat self ’n outistiese seuntjie, Wian (5), het.

'Die belangrikste vir ouers van outistiese kinders is om hulle van so ’n jong ouderdom moontlik gespesialiseerde opvoeding te bied. Dit verbeter die kans veelvuldig dat hulle eendag optimaal sal kan funksioneer.'

“Die belangrikste vir ouers van outistiese kinders is om hulle van so ’n jong ouderdom moontlik gespesialiseerde opvoeding te bied. Dit verbeter die kans veelvuldig dat hulle eendag optimaal sal kan funksioneer,” sê Eurika verder.

Maar die probleem in ’n land soos Suid-Afrika is ’n ernstige tekort aan skole wat in hierdie spesifieke behoefte voorsien.

“So baie ouers kry nie plek vir hulle kinders in skole wat spesiale opvoeding kan bied aan kinders met outisme nie,” sê Eurika.

Little Leaps is een van die enigste skole in Pretoria en omstreke wat hierin spesialiseer. Die skool sukkel om almal te help en het ’n lang waglys ouers wat hulle kinders daar wil inskryf.

By staatsinstellings gaan dit nog erger. Staatskole vir kinders met outisme, soos Unica in Pretoria, is tot barstens toe vol met sommige ouers wat hoor hul kinders sal dalk eers oor vyf jaar daar ’n plek kry.

Op die oomblik het Little Leaps net die vermoë om outistiese kinders tussen drie en 10 jaar oud help.

Maar omdat die behoefte so groot is, het Eurika en haar kollegas besluit om dit hul lewenstaak te maak om teen 2017 kinders tot in gr. 7 te huisves.

“Op die oomblik bekommer dit ons vreeslik, want ons weet nie waarheen die kinders gaan wanneer hulle op 10 hier by ons weggaan nie; ons weet daar is nie plek in die handjie vol ander skole vir hulle nie.”

Little Leaps het vyf onderwysers in diens, elkeen met ’n assistent. Klasse word beperk tot net 10 leerders. Daar is ook ’n permanente arbeidsterapeut en spraakterapeut wat die kinders help.

Outistiese kinders is veral geneig om spraakprobleme te hê en spesiale kommunikasiemiddels word ingespan, onder meer die aanleer van gebaretaal en die gebruik van iPads. Grade word gewoonlik ook oor twee jaar voltooi en die leerplan word daarvolgens aangepas.

Ten spyte van die moeilikhede is Eurika uiters positief. Sy is trots op wat sy en haar kollegas by Little Leaps bereik. Sy kan die groot verskil wat hulle maak, ook in haar eie kind sien.

“’n Paar jaar gelede wou Wian glad nie gehad het ek moes aan hom vat nie. Te danke aan volgehoue arbeidsterapie kan ek nou elke dag vir hom ’n lekker, stywe drukkie gee.”

Eurika & Wian Swart

Eurika en Wian Swart

- Petrus Malherbe