Strandkegels Kinders speel op die strand met waterbottel-kegels

Julle het nodig

leë waterbottels

’n paar tennisballe

Maak so

1 Pak die leë bottels in ’n ry. As die wind waai, kan julle die bottels vol water maak.

2 Verdeel die kinders in twee spanne en laat hulle weerskante van die ry bottels staan. Elke span moet ewe ver van die bottels af wees. 3 Die spanne maak beurt om die balle na die bottels toe te rol en te probeer om soveel moontlik balle om te stamp. ’n Grootmens moet tydhou om te bepaal hoe lank dit duur voor al die bottels omgestamp is. 4 Elke kind in die span kry ’n kans om te probeer. Die speletjie is verby as al die bottels omgestamp is. 5 Die span wat die bottels binne die kortste tyd omgestamp het, wen. Variasie Pleks van waterbottels kan julle sandkegels maak. Pak nat sand in ’n plastiekbekertjie, keer dit om en lig die bekertjie versigtig af. Maak 10 sandkegels en gooi dit dan met die bal stukkend. Glibberige strandbal

[caption id="attachment_63205" align="alignnone" width="600"]Kinders speel met 'n bal op die strand nico.cavallotto via Compfight cc[/caption]

Dis ’n lekker morsige speletjie. Julle kan dit ook in die swembad of enige ander plaat water soos ’n dam speel.

Julle het nodig

strandbal

babaolie of groenteolie

Maak so 1 Smeer die olie op die strandbal. 2 Die kinders moet in ’n kring staan, of uitgesprei binne-in ’n groterige vierkant of sirkel wat julle in die sand getrek het. 3 Hulle moet nou die bal heen en weer vir mekaar gooi. As iemand die glibbe­rige bal laat val, is hy of sy uit. Die een wat laaste oorbly is die wenner. Skulpies-en-klippe

Vir 2 spelers. Dis ’n strandweergawe van die gewilde papierspeletjie nulletjies en kruise.

Julle het nodig

3 skulpe

3 klippe

Maak so

1 Trek 2 dwars en 2 vertikale

strepe in die sand sodat daar ’n rooster met nege blokke is. Een speler kry die klippe en die ander die skulpe. 2 Die eerste speler pak ’n skulp in enige van die blokke. 3 Die tweede speler pak ’n klip in enige van die ander blokke. 4 So kry elkeen ’n beurt om ’n klip of skulp te pak. Elkeen moet probeer om ’n ononderbroke vertikale, diagonale of horisontale ry van net skulpe of net klippe te kry om die ander speler te verhinder om so ’n ry te kry. 5 Die speler wat eerste ’n vol ry met óf klippe óf skulpe kry, wen. Vlaggies vir sandkastele

Meisies bou sandkastele

Julle het nodig

1 A4-vel gestreepte plastiek (by materiaal-

winkels te kry) of versier self papier

potlood

liniaal

ou koerant

gomstiffie

skêr

1 10 cm lange stokkie vir elke vlag

krammasjien (opsioneel)

Maak so

Reghoekige vlaggies

1 Teken met die liniaal en potlood reghoeke van 16 cm x 6 cm op die plastiek of papier en knip uit. Dis jou vlaggies.

2 Plaas die vlaggies met die regte kant na onder op ’n stuk koerant.

3 Smeer die verkeerde kant (wat bo lê) met gom.

4 Plaas die stokkie presies in die middel van die reghoek sodat die bokant van die stokkie teen die boonste rand van die vlag lê.

5 Vou die papier of plastiek dubbel en plak vas sodat die stokkie aan die binnekant van die vlaggie vasgeplak is.

6 Vir ekstra stewigheid kan julle twee krammetjies net langs die stokkie vaskram.

7 Knip ’n driehoekie of sigsag-patroon aan die kort waaikant van die vlag. Driehoekige vlaggies Maak die vlaggie soos hierbo maar pleks van sigsagpatrone knip, knip jy die vlag in ’n driehoekvorm. Vlaggies vir sandkastele Wenk Gebruik sosatiestokkies vir vlagstokke. Strandkuns

Maak ’n bewertjie en ’n skulphart

Seun hou skulp-bewertjie en skulphart vas

Bewertjie

Julle het nodig

skulpe en droë seegras

2 leerbandjies of toutjies van 30 cm

dryfhoutstokkie

Maak so

1 Ryg die see-optelgoed aan die leerbandjies of toutjies.

2 Bind die laaste skulp vas of knoop dit onder vas sodat dit nie uitval nie.

3 Bind die ander kant van die leerbandjie of toutjie aan die dryfhout vas.

Skulphart

Julle het nodig

skulpe (tel dié op wat gaatjies in het)

buigsame draad van 50 cm

knyptang Maak so 1 Ryg die skulpe een vir een op die draad. 2 Laat ’n grootmens help om die draad se punte toe te buig en in ’n hart te vorm. Julle kan ook ’n sirkel of diamant vorm. Wenk Kleiner kinders kan die skulpe aan pypskoonmakers ryg.

Bron Huisgenoot Speel Somer 2013/2013Visuele leiding en stilering Tina-Marié Malherbe

Produksie Marianne Burke

Foto’s Peet Mocke

Modelle Dané en Adrian van Kidz 2000 en Nyaradzo van Infinity models