Moenie dat jou senuwees eksamentyd die oorhand kry nie. Hier is sewe maniere om eksamenstres, wat eksamenuitslae en ’n kind se eiewaarde kan beïnvloed, te beperk:

  1. Maak die huislewe so kalm en aangenaam moontlik.
  2. Moenie die dag se eksamenvraestel in te veel detail bespreek nie – dit rig niks uit nie en dit kan stres veroorsaak as ’n kind tob oor die afgehandelde eksamen.
  3. ’n Oefenroetine – betrek sommer die hele gesin – kan spanning help verlig.
  4. ’n Goeie dieet en genoeg slaap is uiters belangrik tydens eksamentyd. Sluit hope maer proteïene soos vis en donkergroen groente by hul dieet in. Maak ook seker hulle drink genoeg water en kry agt tot tien uur slaap in. Hulle moet hul boeke toemaak en sosiale media en TV minstens ’n halfuur voor slapenstyd afskakel om te ontspan. Beperk ouer kinders se kafeïen-inname.
  5. Dink aan positiewe sêgoed om stres te beheer, byvoorbeeld: “Ek weet ek kan asemhalingstegnieke probeer as ek gespanne raak.” “My angstigheid is nie permanent nie.” “Baie studente is bekommerd dat hulle dalk gaan druip; ek is nie alleen nie.”
  6. Moedig hulle aan om diep asem te haal as hulle baie angstig voel.
  7. Maak seker hulle weet hulle kan met jou gesels as hulle erg bekommerd is dat hulle nie genoeg studeer het nie. Verseker hulle selfs al behaal hulle nie die heel beste punte nie, is dit nie die einde van die wêreld nie.

EKSTRA BRONNE: ANXIETYBC.COM, KIDSHEALTH.ORG, YOUNGMINDS.ORG.UK, MUMSNET.COM, BBC.CO.UK, K-STATE.EDU, OPRAH.COM, TERRI LAILVAUX, ’N BERADER VAN CLAREMONT, KAAPSTAD, MET ’N AGTERGROND IN ONDERWYS

kim profileDeur Kim Arendse