’n Entstof teen MIV blyk ná ’n wetenskaplike deurbraak nader aan die werklikheid te wees.

Die inspuiting is aan ’n groep ape gegee wat toe aan ’n virus blootgestel is wat hulle op dieselfde manier aantas as wat MIV mense aantas. Die helfte van die diere is nie besmet nie en dit word as ’n mylpaalontdekking geloof.

Johnson & Johnson het die entstof nou op mense begin toets. Altesaam 400 gesonde mense van Oos-Afrika, Suid-Afrika, Amerika en Thailand het aangebied om betrokke te raak. Dit is die eerste keer sedert 2007 dat ’n farmaseutiese onderneming so ’n proefneming borg.

Dr. Dan Barouch, ’n entstofnavorser by die Beth Israel Deaconess-mediese sentrum en die Ragon-instituut van die Massachusetts Algemene Hospitaal, MIT en Harvard, werk saam met mense by Johnson & Johnson aan twee ondersoeke.

Die mense se immuunstelsel word eers voorberei deur ’n swak weergawe van ’n verkouevirus te gebruik om MIV in die liggaam te kry. Dan word hulle ingespuit met ’n stof wat die liggaam se immuunstelsel sterk laat optree.

Die virus wat aan die ape gegee is, was so sterk dat almal wat nie ingeënt is nie, die siekte ontwikkel het. Die doel daarvan was om te toets hoe ver die inspuiting hulle teen die virus sou beskerm. Maar al was die infeksie so sterk, het die helfte van die diere wat die inspuiting gekry het, gesond gebly. As ’n mens in ag neem dat die koers van infeksie weens blootstelling 100 keer meer was as wat gewoonlik by mense voorkom, wat dit ’n reusedeurbraak.

Daar word gehoop dit sal selfs beter vaar om mense teen besmetting te beskerm.

Die ondersoek is in die vaktydskrif Science gepubliseer en as alles goed gaan, kan ’n fase-twee-proefneming binne twee jaar plaasvind.

’n Entstof is vermoedelik die beste manier om ontslae te raak van MIV, wat al tot 40 miljoen sterftes wêreldwyd gelei het.

© Cover Media