As jy gedink het balansstate en T-inskrywings is net iets waarmee boekhouers en ouditeurs hul besig hou, dink weer. Danksy Cash CowTM, ’n opvoedkundige nutskis wat leerders help om die basiese beginsels van rekeningkunde onder die knie te kry kan dié vak nou nogal pret wees.

Cash CowTM help leerders, studente en selfs entrepreneurs die basiese rekeningkundige beginsels en terminologie aanleer deur ’n unieke visuele leerervaring.

Henk Koekemoer, die stigter van Ebony & Ivory Consultancy wat Cash CowTM vervaardig, sê die hulpmiddel kan gebruik word soos ’n sakrekenaar in wiskunde gebruik word. “Nes leerders dikwels ’n sakrekenaar kan gebruik om wiskundeprobleme op te los, kan leerders die Cash Cow-nutskis gebruik om die rekeningkundige somme uit te werk.”

Onderwysers en leerders kan Cash CowTM in die klas gebruik om leerders te help om ’n moeilike vak maklik onder die knie te kry. “Dit help met allerhande goed soos debiteure, krediteure en transaksiekinskrywings waarmee leerders dikwels sukkel,” sê Henk.

Cash CowTM is sowat twee jaar gelede op die been gebring en sedertdien is die Cash CowTM Business Bookkeeping Game ook ontwikkel. Dié speletjie kan help om leerders se kennis van die vak op ’n pret manier vas te lê. “Dit bring ’n prettige element aan die klaskamersituasie en maak rekeningkunde lekker,” sê Henk.

Daar is ook reeds groot planne om die Cash Cow-produkte in digitale formaat beskikbaar te maak en dit in die buiteland te bemark.

“Rekeningkunde is ’n deurslaggewende onderdeel van onderneming, en almal kan by die vak se vaardighede baat; nie net boekhouers of ouditeurs nie. Suid-Afrika het ook meer entrepreneurs nodig wat boekhouvaardighede het,” sê Henk.

Die Cash Cow-produkte voldoen aan CAPS-vereistes en kan maklik gebruik word om bestaande hulpbronne aan te vul. Die nutskis bestaan uit verskeie hulpbronne, onder meer ’n handboek en DVD met aanwysings en is in Afrikaans en Engels beskikbaar teen R250. Die Cash Cow-speletjie is tans net in Engels beskikbaar teen R600. Besoek gerus Cash CowTM se webtuiste vir hul kontakbesonderhede om bestellings te plaas.

Shané Barnard