Eksamens is harde werk vir jou brein! Maak seker jy eet gesond om die beste uit jou brein te put. Hier is agt wenke:

  • Eet vars kos en vermy verwerkte of gemorskos met baie suiker, kleur- en preserveermiddels.
  • Die beste dieet vir jou brein is een wat proteïene en vette bevat. Proteïene prikkel die geheue en vette is die brein se boodskappers. So ’n dieet sal olierige vis (soos sardientjies), eiers en vis insluit.
  • Moenie baie verwerkte koolhidrate vir ontbyt eet nie. Vermy dus witbrood of ontbytpap wat nie van hawer of semels gemaak is nie
  • Eet ’n vullende ontbyt voor jy gaan skryf, veral met langer vraestelle: Jy wil genoeg energie hê tot jy jou antwoordstel moet ingee! Roereier op volgraanroosterbrood is ’n uitstekende ontbyt voor ’n eksamen. Of eet maalvleis en kaas op volgraanroosterbrood.
  • Yster en vitamien C is baie belangrik vir optimale breinwerking. Eet rooivleis, spinasie, lensies, boontjies en neute vir yster. Deur baie tamatie, groen rissies, koejawels en sitrusvrugte soos lemoene en nartjies te eet, kan jy lekker baie vitamien C inkry.
  • Vitamien B is net so belangrik – ’n tekort aan dié vitamien kan jou geheue negatief beïnvloed. Kry dit in: eiers, lewer, lensies, sojabone en vars vrugte en groente.
  • Natuurlik raak ’n mens lus vir peusel terwyl jy agter die boeke sit, maar dit beteken nie jy hoef ’n klomp lekkers en gemorskos te eet nie. Probeer gesonde peuselhappies soos biltong, neute en kaas, of hou ’n bak vol vrugte byderhand vir as jou grommende maag dit moeilik maak om te konsentreer!
  • Drink water voor en gedurende jou eksamen. Te veel koffie sal jou dalk laat wakker voel, maar dit kan ook jou denkproses stadiger maak.

Bron: Huisgenoot 30 Oktober 2008