Sukkel jy met jou kind wat baie tyd voor die televisie deurbring? Is dit asof jy jou kinders net nie so ver kan kry om aktief op die sportveld te wees of om optimaal in die klaskamer te funksioneer nie?

“Luiheid” is dalk ’n woord wat by jou opkom. Maar, waarsku Retha Kruger, ’n opvoedkundige sielkundige van Kaapstad, sulke gedrag kan nie altyd daaraan toegeskryf word nie.

“Om jou kind as ‘lui’ te beskou is ’n kopskuif wat jy maak,” verduidelik sy. “Pleks dat jy dink jou kind is lui, vra jou liewer af: is hy nie net ongemotiveerd nie?”

Volgens Retha is dit juis ’n gebrek aan motivering, pleks van ’n inherente luiheid, wat kinders se gedrag demp.

Hoewel dit frustrerend kan wees, is daar eenvoudige oplossings.

“Elke kind het iets wat hom of haar interesseer,” sê Retha. “Ouers moet daardie iets identifiseer en daarop fokus.”

Dit kan enigiets wees – van ’n liefde vir toneelspel tot klavier en bergklim of speelgoedtreine. Hou aan om jou kind aan hierdie belangstelling bloot te stel, want dit sal hom of haar weghou van die televisie of rekenaar, wat nie noodwendig ’n produktiewe manier is om hul tyd deur te bring nie.

Kinders aap ook graag na wat hul ouers doen. “Stel daarom die voorbeeld,” meen Retha. “Kinders sal volg wat hulle sien. As jy hulle wil kry om iets aktief te doen, gaan klim self ’n berg of gaan stap met die honde. Nooi jou kinders saam.”

Nog ’n lekker manier om jou kinders te motiveer is om hul dae te beplan en hulle te leer om daarby te hou. Dit leer hul terselfdertyd ook doeltreffende tydsbestuur, ’n vaardigheid wat baie kinders kortkom, sê Retha.

“Stel byvoorbeeld ’n roterende rooster vir huistakies op,” verduidelik sy. “Die ouers moet hulself ook daarby betrek. Laat elke kind om die beurt ’n sekere huistaak verrig, soos om die vullis te verwyder of om die diere kos te gee. Roteer hierdie verantwoordelikhede elke week, want as ’n kind dieselfde goed elke dag moet doen, raak hulle gou verveeld en wil dit nie meer doen nie.”

Gebruik ook die konsep van beloon en straf. Prys jou kind vir sy goeie prestasies, want dit gaan hom motiveer om aan te hou. Maar maak ook seker jou kind besef hy sal gestraf word as hy nie jou opdragte gehoorsaam nie. “Maak seker dis nie leë dreigemente nie,” maan Retha. “As jou kind nie sy pligte uitvoer nie, verwyder byvoorbeeld sy rekenaar vir ’n week of verbied enige TV. Hy moet verstaan sy optrede hou gevolge in.”

Om jou kind gereeld te prys is baie belangrik, sê Retha. “Ouers besef nie altyd hoeveel druk hulle op hul kinders plaas nie; daarom moet goeie prestasies beloon word.” Sou kinders nie uitblink op skool nie of huiwer om skoolwerk te verrig, kan daar ook onderliggende leerprobleme wees wat ouers nie altyd besef nie.

Aandagafleibaarheid en hiperaktiwiteit is maar twee leerprobleme wat uitgeken moet word as ’n moontlike oorsaak van jou kind se gebrek aan prestasie.

“Eintlik gaan dit tog oor jou betrokkenheid by jou kind se lewe,” sê Retha. “Doen goed saam as ’n gesin. Belê in jou kinders se belangstellings, en kort voor lank sal hulle wegbly van die televisie en net gedurig hul stokperdjie wil beoefen.”

-         Petrus Malherbe