Ons almal wil hê ons kinders moet in sport- en kultuuraktiwiteite uitblink, en dit is vir menigte ouer ’n voorreg en belewenis om langs die sportveld of in die gehoor te sit terwyl hul kind deelneem.

Maar hoe gemaak as jou kind se liefde vir buitemuurse sport en aktiwiteite hul liefde vir skoolwerk oorskry en hulle pal te moeg of besig is om daaraan ook aandag te gee? Ons het by Christelle du Plessis, ’n opvoedkundige sielkundige van Johannesburg, gaan aanklomp.

Waarom is dit belangrik om my kind aan te moedig om wel aan naskoolse aktiwiteite  deel te neem?

Nie net leer sport kinders toewyding en is dit goed vir hul gesondheid nie; dit kan hulle ook broodnodige vaardighede vir hul skoolwerk aanleer.

“Dit is ’n voorreg wanneer ’n kind of tiener presteer op sportgebied,” sê Christelle.

“Beweging en oefening is fenomenaal vir die groeiende liggaam, en dit is goed vir jongmense om hul liggaam op ’n gesonde manier in te span.

“Sport kan kinders leer fokus, beplan, organiseer en om saam met ander te werk.

“Dit leer hulle ook deursettingsvermoë, wat noodsaaklik kan wees vir akademiese prestasie.

“Dit is dus belangrik om hierdie kwaliteite deur te trek vanaf sport na akademie sodat kinders  die positiewe verband tussen sport en skoolwerk kan bou.”

Christelle sê ouers moet hul kinders help in hierdie verband.

Tydsbestuur is belangrik:

Leer jou kinders daar is ’n tyd en ’n plek vir alles, stel sy voor.

  • Help jou kind om ’n rooster op te stel wat tyd maak vir aktiwiteite en skoolwerk. Een met tydgleuwe van 30 minute werk goed, sê sy.
  • Dit is belangrik om te onderskei tussen sport en ontspanning, voeg sy by.
  • “Wanneer kinders ’n oefening bywoon, is dit inspanning en hulle moet daarna tyd gegun word om fisiek en emosioneel te rus.”
  • Kinders moet deelneem aan die proses om ’n rooster op te stel en ouer kinders kan dit selfs alleen doen, en net na die tyd met hul ouers nagaan, stel sy voor.
  • Spesifieke vakke soos wiskunde, wetenskap en tale moet ook in tydgleuwe ingepas word, pleks van net ’n algehele tyd wat vir skoolwerk ingedeel word.
  • “As ouers akademie die hoogste op die lys prioriteite plaas, sal kinders dit ook doen,” sê Christelle. Verdeel daarom die tyd so dat skoolwerk voorkeur kry en beklemtoon dat, veral tydens toetsweek en eksamens, is sport of kultuur slegs ’n uitlaatklep vir ontspanning maar kom skoolwerk eerste.

Moenie jou kind oorlaai nie:

  • “Indien jou kind oorweldig word deur die eise wat aan hom of haar gestel word, gaan iets daaronder ly – hetsy sy akademie of sport.”
  • As jou kind redes vind om oefeninge te vermy, hulself van die gesin onttrek of pal kla hy of sy is te ‘siek’ om te oefen om skool toe te gaan, moet gevaarligte begin flikker.
  • Ouers moet pasop vir die slaggat dat ’n kind nie akademies hoef te presteer nie omdat hy of sy in sport uitblink, sê Christelle.
  • “Beserings en die hoë vlak van mededingendheid in professionele sport het al baie belowende sportmanne en vroue se drome gekniehalter.”
  • Hou ook in gedagte dat dit wys is vir jou kind om ’n plan-B te hê.
  • “Beroepsportmanne en –vroue moet hulself kan bestuur en moet aan die einde van hul sportloopbaan kan terugval op ’n akademiese agtergrond.”
  • Hou jou kind se ouderdom in gedagte en moenie te hoë eise vir hul ouderdom stel nie.
  • Kommunikeer met jou kind se afrigter.

    “Indien die afrigter te veel van jou kind verwag, kan jy aan hom of haar verduidelik dat julle jul kind ondersteun maar ook akademie as belangrik ag.”

Besoek http://www.resilientfamily.co.za/ vir meer inligting oor Christelle en haar praktyk.

Kliek ook hier vir meer kontakbesonderhede.