Potjielesse kan tot ’n jaar duur of selfs net drie dae, afhangende van jou tydsberekening. Jy kan in die versoeking kom om jou kind so gou moontlik uit die doeke kry, maar die proses moet vir al die betrokkenes maklik en gemaklik wees. Hier is ’n paar goed wat jy in ag moet neem om die geskikte ouderdom vir potjielesse te kies.

Die gemiddelde ouderdom vir potjielesse

Dit lyk of die kenners verskil oor die beste ouderom vir potjielesse en dit help glad nie. Die algemene raad is dat jy moet wag tot die somer nadat jou baba drie geword het, maar baie kleuters kry op twee al potjielesse. Dit hang alles van jou kind af.

Ouderdom teenoor gereedheid

Navorsing dui daarop dat ouderdom inderwaarheid min met potjielesse te doen het. Die belangrikste oorweging is gereedheid. Dit is moontlik dat jou kind van 12 maande al gereed is vir potjielesse of eers op vier jaar.

Die begin-ouderdom vir jou kind

Jy sal die meeste sukses met potjielesse behaal as jy daarmee begin op ’n ouderdom dat jou kind tekens van gereedheid toon. Dit sluit emosionele en fisieke gereedheid in. Emosioneel moet hulle onafhanklik en gemotiveer wees om ’n potjie te gebruik. Dit is ’n groot verandering en elke kind is op ’n ander stadium gereed. Babas of kleuters moet kan sit, staan, stap en in ’n mate kommunikeer. Hulle moet ook kan herken wanneer hulle ’n draai moet loop. Blaasbeheer is ook ’n belangrike liggaamlike vaardigheid wat elke kind op ’n ay eie ouderdom ontwikkel.

Wees op die uitkyk vir hierdie tekens van gereedheid

Daar is sekere tekens waarvoor jy op die uitkyk kan wees. Jy kom dalk agter jou kind lyk vies vir vuil of nat doeke en gee die een of ander waarskuwing dat hulle ’n behoefte het. ’n Doek wat langer droog bly, is nog ’n goeie aanduiding. Hul opelyf sal ook gereelder en meer voorspelbaar word. Hulle sal in ander mense se badkamergewoontes belangstel en nie weerstand bied om vir ’n paar minute op ’n slag op die potjie te gaan sit nie. Wanneer hul nuuskierigheid ’n hoogtepunt bereik, is dit die regte tyd om met potjielesse te begin.

Skeduleer potjielesse versigtig

As ouer moet jy ook gereed wees. Dit is nie ’n goeie idee om voor of tydens die wintermaande met potjielesse te begin wanneer jy lae klere, skoene en sokkies moet uittrek as jou kind ’n glipsie gehad het nie. Potjielesse vereis baie gefokusde tyd, geduld en aandag; daarom moet jy ’n lank ’n redelik stresvrye en oop program hê. Jy het ook hope geduld nodig vir die vele glipsies wat waarskynlik sal gebeur – jy wil nie hê jou kind moet sleg voel dat hy ’n glipsie gehad het nie, want dit sal die potjielesse ’n paar stappe terugsit.

Daar is ongelukkig geen magiese ouderdom vir potjielesese nie. Die beste raad is om op jou kind dop te hou vir tekens van gereedheid en ’n gemaklike tyd te kies om te begin. Jy kan altyd in ’n later stadium weer met die proses begin as jou kind duidelik nie belangstel nie. Oorweeg jy nou potjielesse?

Skrywer: Annabelle Lombard

“Laat jou kind die aanduiding gee oor wanneer om met potjielesse te begin.” Janet Bytheway.

• Hierdie artikel is nagegaan deur Janet Bytheway, ’n kliniese sielkundige en lid van die BabyGroup-mediese raad.