Die langverwagte vakansie is hier en nadat jy al jou verlore slaap ingehaal en programme op DStv se Catch Up gekyk het, is jy gereed om ’n aktiwiteit of twee aan te pak.

Maar o genade, jou bonus is reeds besig om dun te raak nadat jy al jou skuld vereffen het en ná die hap wat die Kersgeskenke daaruit gevat het, is daar min geldjies oor.

Hou moed. Ons het gaan uitvind watter aktiwiteite jy kan aanpak sonder om ’n sent daarvoor op te dok.

  • Span uit op die strand.
  • Gaan klim ’n berg en swem in ’n bergstroom.
  • Braai malvalekkers onder die sterrehemel.
  • Bou ’n vlieër van ou koerante saam met die kleingoed en vlieg dit wanneer die middagbries opkom.
  • Gaan kyk walvisse as jy naby die see woon.
  • Besoek ’n plaaslike museum en vind meer uit oor jou stad of dorp se geskiedenis. Dit is gewoonlik gratis.
  • Gaan hou piekniek in ’n park en speel met ’n bal.
  • Speel kaart- en bordspeletjies.
  • Hou ’n gesinskonsert; kinders kan uitrustings uit ma en pa se klerekas aantrek.
  • Gaan stap met die hond en was hom daarna.
  • Bou ’n pophuis uit ou bokse. ’n Mens kan gratis bokse by supermarkte kry.
  • Neem ’n boek by die biblioteek uit of ruil ’n boek met ’n vriend.
  • Speel ’n potjie tennis.
  • Bou ’n kaskar uit oorskiethout.
  • Bou ’n tent met lakens en liggies en kamp uit in die huis.
  • Knip en plak ’n mosaïek-prent uit ou tydskrifte.