Kaapstad –

Nadat sy oor die vyfjarige se lot op News24 gelees het, het die maatskappydirekteur Nomfundo Molefe (37) vlugte, ’n nag se verblyf in ’n hotel in Midrand en vervoer na die lughawe vir hom, sy broer en sy ouers gereël.

Die gesin het hulle juis bekommer oor die koste van die reis en was verstom oor Nomfundo se vrygewigheid.

“Ek was uit die veld geslaan. Sy ken ons nie eens nie . . . ’n Mens hoor altyd stories, maar dit is ’n nuwe perspektief en daar is nog goed in mense,” het die seun se ma, Judy, Woensdagoggend gesê.

Die seun is met die seldsame geboorte-afwyking epispadie gebore. Sy urinebuis het nie ten volle ontwikkel nie, wat beteken hy moes deur ’n gat in sy lies urineer.

Ná talle operasies kan die seun nou urineer deur ’n spesiale buis, maar dit breek dikwels en lei tot ernstige blaasontsteking.

’n Pediatriese uroloog by die Rooi Kruis-kinderhospitaal sal ’n plan saamstel wanneer die seun op 29 Junie talle toetse ondergaan.

“Dit het my ontroer”

Nomfundo sê sy het geskrik toe sy die storie lees, want sy het gewonder wat sy sou gedoen het as dit haar kind was.

“Dit het my diep geraak toe die ma sê sy sal enigiets in haar huis verkoop sodat hy ’n operasie kan kry,” het sy Woensdag in haar huis in Johannesburg gesê.

“Ek het die storie vir my vriende aangestuur en iets het in my oor gefluister dat ek iets moes doen.”

Nomfundo het twee eie seuns (12 en 17) en vyf aangenome kinders van ’n familielid.

Sy het eers saam met haar kinders gaan sit om hulle oor die seun se lot te raadpleeg. Haar jongste wou weet of die groot nuus is dat sy nog ’n kind aanneem of trou, sê sy laggend.

“My kinders het trane in hul oë gehad en gesê: ‘Goed, ons sal saam met Ma kom, al is dit ’n bietjie vreesaanjaend.’”

Nomfundo en haar seuns sal Judy, haar man en hul twee seuns die naweek op hul tuisdorp die eerste keer ontmoet.

“Ek is opgewonde, want ek gaan begin speelgoed koop vir die seuns,” het Nomfundo gesê.

Sy kan skaars wag om die vyfjarige te bevriend en hom drukkies en soentjies te gee.

Judy is net so opgewonde. Sy het foto’s van haar gesin na Nomfundo gestuur, onder meer een van haar “kampioen” in ’n Spider-Man-kostuum, en wil graag potjiekos maak.

Die gesin sal die Moederstad twee dae lank besigtig voor die seun in die hospitaal opgeneem word.

News24