’n Span by die Harvard-universiteit in Amerika het die aanbeveling gemaak nadat hulle ’n jaar lank navorsing gedoen het oor die impak van slaaptydstories op kleuters. Veral by meisies is ’n groot verbetering in hul taalgebruik opgemerk as mans vir hulle die stories gelees het. “Die impak is yslik, veral in die geval waar pa’s vir hul kinders voor die ouderdom van twee jaar begin stories lees het,” het Elisabeth Duursma, wat die navorsingstuk vandeesweek by ’n konferensie gaan voorlê, verduidelik. “Lees word as ’n vroulike ding beskou, maar dit lyk asof die kleingoed beter luister wanneer hul pa vir hulle stories lees – dit maak dit spesiaal.”

Die wyse waarop mans en vroue lees en wat hulle daarna doen, word as die kern van die verskil beskou.

Die wyse waarop mans en vroue lees en wat hulle daarna doen, word as die kern van die verskil beskou. Waar vroue geneig is om vir die kinders noukeurige vrae oor die storie te vra, volg mans ’n verbeeldingryker pad.

Byvoorbeeld: pleks van net te vra wanneer daar geëet is as daar ’n ete in die boek voorkom, sal hulle moontlik gesels oor ’n eetervaring wat hulle gehad het. Dit help kinders met taalgebruik en stimuleer hul verbeelding en Duursma verduidelik dit is voordelig aangesien dit “kognitief uitdagend” is.

Dit beteken nie vroue moet die leeswerk nou net aan die mans oorlaat nie. Dit sou skadelik wees aangesien ’n aantal studies getoon het hoe voordelig dit vir kinders is as daar vir hulle stories gelees word.

Veral slaaptydstories kan ’n kind se kennis verbreed omdat hulle veilig voel wanneer hulle knus in die bed is en spesiale tyd saam met een van hul ouers deurbring. Dit help ook om die kleintjie se woordeskat uit te brei en dit gee aan ’n ma of pa die geleentheid om die band met hul seun of dogter te versterk.

© Cover Media