“Ek kan die Maandag onthou toe die ginekoloog sê ons het twee keuses,” vertel Heinrich Saayman (33), Hayfah se pa.

“Ons kon haar met ’n keisersnit laat uithaal, maar dan is die kans groot dat sy nog nie volledig gevorm is nie, of ons kan haar in Fiona (Zempie, sy lewensmaat) se maag los en kyk of sy groei.

“Daar was ’n kans dat sy in die baarmoeder kon doodgaan. Dit was regtig ’n baie moeilike keuse, maar ek en Fiona (30) was dit eens dat ons haar gaan laat uithaal. Op daardie oomblik het ons net vir die Here gesê: ‘Dis u kind. U het haar gemaak en ons gee alles in u hande oor.

“Genade bo genade is sy op Woensdag 19 Augustus 2015 met 10 vingers en 10 tone gebore en al haar liggaamsdele was gevorm.”

Met geboorte was klein Hayfah net 27 cm lank en het sy net 440 g geweeg.

“Die eerste keer toe ek haar sien, kon ek nie glo hierdie klein mensie is voor my nie,” skryf die pa vir ons uit Ashton.

Dit was egter net die begin van ’n lang pad vir die gesin.

“Omdat sy so klein gebore is en haar longe nog nie ontwikkel was nie, het sy moeilik asemgehaal. Sy is aan tientalle pype en masjiene gekoppel en moes permanent suurstof kry.”

In die maande daarna was Hayfah in en uit die hoësorgeenheid. Die longaandoening pulmonêre hipertensie en die adenorvirus is by haar gediagnoseer en volgens Heinrich het die virus sy dogter se longe baie groot skade aangedoen.

“Weens die hipertensie het die aar tussen haar longe en hart vernou en dit het dit vir haar moeilik gemaak om asem te haal. Die pediater het gesê ons moet dinge een dag op ’n slag vat en dat sy (Hayfah) ons sal wys wanneer sy reg is om huis toe te gaan.

“Ons het gedink dit sal ’n maand of drie duur, maar ’n maand het vier maande geword, toe vyf, en later sewe. Elke keer dat my of Fiona se foon gelui het en dis die hospitaal, het ons die ergste verwag. Dit was ’n moeilike ervaring.”

Heinrich sê die gebeurtenis het baie emosionele, finansiële en fisieke druk op hulle geplaas en soms het hulle mekaar verwyt.

“Maar ons het daardeur gekom. Een ding het ons geweet: Die Here is in beheer van alles.”

Lees ook: Te skattig! Geliefde Afrikaanse sanger deel eindelik foto’s van vroeggebore kleinding

Omdat Hayfah in ’n broeikas en aan soveel pype gekoppel was, kon die ouerpaar haar eers ná vier maande die eerste keer vashou. “Dit was een van die hoogtepunte in ons lewe as ouers. Daar het ons weer besef wat ’n wonderlike wonderwerk sy is.”

Ná ses maande in die Mediclinic Panorama is Hayfah oorgeplaas na ’n staatshospitaal op Worcester. Sy is ná ’n maand ontslaan, maar moes tot 27 April steeds suurstof kry.

“Ons weet wat ’n agterstand sy het, maar die blote feit dat sy leef, beteken vir ons baie.”

Almal – dokters, pediaters, susters en vriende – sê sy is ’n regte wonderbaba, sê Heinrich.

“Hulle het nog nooit van so ’n klein babatjie gehoor nie. Een kraamsuster het vir ons gesê dis hoeveel ’n plasenta weeg. Sy het al so baie dinge beleef en elke keer maak sy dit,” sê Heinrich. “Sy het oor en oor bewys niks kan ’n mens onderkry nie.”

Heinrich sê hul familie en vriende was baie opgewonde toe hulle Hayfah op Paasmaandag die eerste keer ontmoet.

“Hulle het haar toe nog net op foto’s gesien en van haar gehoor, maar daardie dag het ons haar vir almal gewys. Hayfah is ’n ligstraal in ons familie.”

Hy sê as dit nie vir die vriende en familie was wat agter hulle gestaan het nie, sou hulle gesukkel het om die mas op te kom. “Hulle het regtig vir ons gebid; dis al wat ons gedra het.”

Hayfah is ’n dapper vegter, sê haar pa. “Ek het altyd gesê ek dink nie ek sal deur so baie dinge gaan om vir my lewe te veg nie. Sy is nog so klein, maar elke keer kom sy deur ’n donker stryd. Sy is my rolmodel, want sy bewys vir my as haar pa niks kan ’n mens onderkry nie.”

Dit gaan tans baie goed met Hayfah en sy gebruik net in noodgevalle suurstof. Heinrich wil mense in dieselfde bootjie moed inpraat.

“Al lyk dinge hoe swaar en moeilik, die Here is in beheer. Hy is die skepper van die mens en sy gedagtes. Vertrou en glo net. Moet nooit moed opgee nie, al lyk dinge hoe moeilik en swaar.”