Jessica Rowe het ’n sosialemediastorm onder haar volgelinge ontketen toe sy ’n foto op Instagram deel van ’n stootwaentjie buite ’n restaurant in die snerpende koue met ’n slapende baba daarin.

Die selferkende “helikopter-ouer” se Instagram-foto het later gelei tot ’n debat oor ouerskapvaardighede en of die gebruik om jou baba buite in die koue te los reg of verkeerd is. Die byskryf by die foto het gelui: “Dit laat my in sweet uitslaan! Maar oral in Reykjavik los gesinne hul baba buite kafees, winkels, ens. . . . Daar word vir my gesê: ‘Vars lug is goed vir hulle.’” Die foto van die ongewone benadering tot ouerskap het ’n beroering op sosiale media veroorsaak. ’n Volgeling het opgemerk: “Moet ’n lieflike plek wees om te woon. Ons word hier ingevlieg wanneer ons ons s’n by ’n vulstasie in die motor los.”

Dit blyk die ouerskapgebruik is eintlik ’n eeue oue tegniek.

’n Ma van drie van Stockholm in Swede, Lisa Mardon, sweer daarby. Haar kinders slaap buite vandat hulle gebore is.

“Ek dink dis goed vir hulle om so gou moontlik in die vars lug te wees,” het sy in 2013 aan die BBC gesê.

“Veral in die winter wanneer daar baie siektes in omloop is . . . lyk die kinders gesonder.”

Die BBC wys daarop die meeste kleuterskole in Swede los kinders buite om te rus en “dis algemeen om slaaptyd rye stootwaentjies in die sneeu te sien met babas vas aan die slaap binne-in”.

Die meeste ouers sê hulle bring minstens hul babas na binne of maak hulle toe as die kwik -10 grade C bereik. Ander is weer heel gemaklik wanneer dit -30 grade C is!

Navorsers het in 2008 gesê Ysland se hoofstad, Reykjavik, bevorder die ouerskapsgebruik op hul toerismewebtuiste danksy die gesondheidsvoordele vir kinders.

“Jy sal ’n kinderstoeltjie in elke restaurant kry en baba’s buite op die sypaadjie in hul stootwaentjie sien slaap terwyl hul ouers binne is,” lui dit.

Maar nie almal staan die gebruik voor nie.

Een van Jessica se volgelinge het geskryf: “Sê nou die baba word ontvoer?” terwyl ’n ander gebruiker laat hoor het: “Dit nog nooit gesien nie, @jessjrowe, maar dit maak my senuagtig, om die minste te sê!”

Iemand anders het daarop gewys dit is nie net die koue wat ’n bron van kommer is nie.

“As jy jou baba buite kafees of winkels kan los om te slaap, beteken dit jy bly in ’n stabiele, vreedsame en veilige land.

#iceland is ongetwyfeld so ’n wonderlike plek.

Terwyl, elders in Engeland, word almal teen die koue beskerm!

via GIPHY

Bronne: mail.co.uk, thesun.co.uk

Lees ook op Huisgenoot.com:

Errol se meisie het nie een varkie in die hok nie

Mamma Mia! Abba-aanhangers sal hiervan hou

Liefde by die Dam: Francois van Coke kan skaars wag

Terreurwaarskuwings: Só skerp inkopiesentrums in Kaapstad, Johannesburg veiligheidsmaatreëls op

Bisarre foto’s en video’s: So versorg ’n mens jou hare en naels in die ruimte . . .