Na aanleiding van die reaksie op my vorige blog (veral die een oor onderwysers en vakansies) en die baie gewaardeerde ondersteuning van ouers wat begrip vir die onderwysberoep het, deel ek vandag graag die volgende paar idees:

Ons almal hardloop die wedloop van die lewe teen so ’n vinnige pas – ja, almal, nie net die arme, oorwerkte onderwysers nie! – dat ons soms die groter prentjie uit die oog verloor.

Dit gaan nie regtig oor hoeveel uur wie werk en hoeveel geld of vakansie jy kry nie, dit gaan oor watter doel jy in die lewe bereik. Almal wil graag eendag op hul aftreehuisie se stoep sit, terugkyk oor hul lewe en weet hulle het ’n verskil gemaak en êrens iets beteken.

Dis hoekom dit so belangrik is dat onderwysers en ouers hande vat en saamwerk tot voordeel van ons kinders. Ons is maar almal soms skuldig daaraan om net een kant van ’n saak te sien; daarom is oop en eerlike kommunikasie tussen die rolspelers in ’n kind se lewe tog so belangrik. Hoeveel trane en moeilikheid kon gespaar word as daar nie weens swak kommunikasie misverstande ontstaan het nie.

En hier is ouers en onderwysers dikwels ewe skuldig!

Daar is onderwysers wat so rigied teen reëls en regulasies vaskyk dat die kind misgekyk word. Ja, ek weet die huiswerk moet gedoen word en die skoolreëls oor voorkoms moet nagekom word, maar dit is baie belangrik om in die proses van dissipline ook na die kind te LUISTER. Daar is baie kansvattertjies wat die onnies met leuens ’n rat voor die oë probeer draai. Ons almal vang hulle sommer gou uit. Maar . . . soms is daar ’n storie agter die storie: werklike moeilike omstandighede of ’n geldige rede. Daar skuil dikwels ’n hartseer storie in die lewe van ’n rebelse kind wat deur die lewe, en volwassenes, rondgegooi word. Hiermee sê ek nie alle onderwysers moet skielik in sielkundiges verander nie. Ek pleit net vir begrip en oop kommunikasiekanale wat baiekeer verdere rebelse optrede en konflik kan voorkom.

Daar is min dinge in die lewe wat soveel belonging gee as wanneer jy ’n leerder in jou klas “gewen” het, wanneer die grootste rebel in die graad skielik elke dag in jóú klas sy boeke daar het en selfs sy huiswerk gedoen het! En dan nog aanbied om die klas vir jou uit te vee . . . Dissipline en reëls is ’n moet – dit berei leerders voor vir die lewe – maar medemenslikheid en empatie kan ’n onderwyser se hande ook sterk maak in die proses om ’n verskil te maak in die lewens van die leerders wat elke dag in sy/haar klas sit.

Uit ’n ander perspektief, kommunikasie tussen ouers en onderwysers:

Daar is soveel wonderlike ouers wat die skool en onderwysers ondersteun en help – baie dankie daarvoor! Maar daar is ongelukkig ook ouers wat onmiddellik kwaad word, die slegste van ’n onderwyser sal glo en die oorlogspad vat sonder om na die ander kant van ’n saak te luister.

’n Pa storm eendag woedend die skoolterrein binne nadat sy arme, onskuldige dogtertjie hom met haar selfoon, wat nie tydens skoolure gebruik mag word nie, laat weet het hoe onregverdig ’n onderwyser haar behandel het. Hy dring daarop aan om dadelik die hoof te sien. Sonder ’n afspraak, natuurlik, want die onderwysers en hoofde is mos maar net daar by die skool, enige tyd beskikbaar!

Nadat die sekretaresse versigtig verduidelik dat die hoof met ’n vergadering besig is en dat sy vir hom ’n afspraak kan maak, stap hy onvergenoegd na die adjunkhoof se kantoor. Daar word die adjunkhoof nie gegroet nie, nee, net die volgende geskree (baie ironies!): “Ek wil weet wie gee ’n onderwyser die reg om op MY KIND te skree!”

“Môre, Meneer. Waarmee kan ek u help, wat het u so ontstel?”

“Wie gee die onderwysers in die skool die reg om op my kind te skree! Sy bel my in trane! Sy sê die juffrou het op haar geskree omdat haar boek nie op datum is nie en omdat sy ’n verkeerde serp dra! Al haar werk is gedoen en sy het net ’n wit serp aan.”

“Meneer, hoor u wat u nou vir my sê? Sal ’n onderwyser ’n kind aanspreek as haar boeke reg en op datum is en sy die korrekte skoolserp dra volgens die skoolreëls?”

Ek gaan nie die hele storie verder vertel nie; ek wou dit net as voorbeeld noem om te bewys dat eerlike, oop kommunikasie tog so belangrik is en dat daar na albei kante van ’n saak gekyk moet word.

’n Leerder wat by die skool in die moeilikheid kom of swak gevaar het in ’n toets, maak dikwels die skool of ’n onderwyser die sondebok om hom- of haarself te verontskuldig. Dit is nie altyd die geval nie, maar ek pleit wel dat daar so objektief moontlik na al die kante van ’n saak gekyk moet word voor daar oorhaastig opgetree word of ’n skool of onderwyser onregverdig beswadder word.

As daar wel enige probleme is, volg asseblief die regte kanale en wees bereid om agter jou aantygings te staan deur dit nie anoniem te doen nie. Wat help dit as daar ’n probleem met werk in die gr. 9-klas ontstaan het en die hoof kry ’n anonieme e-pos oor iets waarvan hy niks weet nie?

  • Praat met die vakonderwyser en hoor wat albei kante van die saak is.
  • Indien u as ouer nie dan tevrede is nie, kontak die departementshoof.
  • As die probleem nog nie opgelos is nie, kan die adjunkhoof of akademiehoof gespreek word.
  • Ek is seker u sal dan al lankal ’n oplossing gevind het, maar as u nog nie het nie, maak dan ’n afspraak met die hoof.

Wat ek eintlik wil sê, is kom ons as ouers en onderwysers help en ondersteun mekaar omdat ons almal die beste vir ons kinders wil hê. Kom ons werk saam en nie teen mekaar nie!

Net ’n laaste gedagte: Die arme, onskuldige dogtertjie se boek was toe nie op datum nie en sy het by die kantoor ingestap met ’n hemp wat uithang, grimering op haar gesig . . . en met die verkeerde serp!

- Olga Channing

Olga Channing is ’n adjunkhoof en Afrikaans-onderwyser aan die Hoërskool Tuine in Pretoria. Sy het al ses skoolhandboeke vir die nuwe kurrikulum geskryf, asook die Afrikaanse jeugroman Roomyskoningin. Ná 24 jaar in die onderwys is sy steeds dol op dié beroep.