Mense kies om vele redes om eers later in hul lewe met ’n gesin te begin, van loopbaankeuses tot om te wag tot hulle die regte maat vind. En nuwe navorsing dui daarop dit kan voordelig wees vir kinders van ouer mans. 

Dit is ’n algemene neiging in die vermaakwêreld, met mense soos die 56-jarige George Clooney en JAY-Z (47) wat onlangs nuwe toevoegings tot hul gesin verwelkom het. En nou is bevind ouer pa’s, dié bo 40 vir doeleindes van navorsers aan die King's College in Londen se ondersoek, het ’n groter kans om nasate voort te bring wat slimmer is en beter konsentreer, en minder bekommerd daaroor om in te pas. 

Die span het tot hul gevolgtrekking gekom nadat hulle data bestudeer het van ’n ondersoek wat die ontwikkeling van 15 000 tweelinge nagespoor het. 

’n Bleeksiel-indeks is geskep en die navorsers het die tweelinge se bleeksielneigings gemeet toe hulle 12 jaar oud was. Dié wat bleeksielkenmerke gehad het, het die beste op skool gevaar. 

Die navorsers bespiegel dat bleeksielagtige eienskappe oorgeërf word en dat pa’s wat uitgestel het om met ’n gesin te begin dalk meer ingestel was op opvoeding en ’n loopbaan en ook meer geneig is om ’n stabiele huis te hê wat bleeksielkenmerke aanmoedig. 

Maar in ’n aparte ondersoek is bevind dat dit, baie soos vir vroue, vir mans moeiliker word om ’n kind te verwek namate hulle ouer word. 

Navorsers aan die Beth Israel Deaconess mediese sentrum het bevind mans in hul 40’s het ’n laer geboortesyfer as diegene wat ’n dekade jonger is. Ouens van 40 tot 42 het ’n gemiddelde geboortesyfeer van 46 persent en mans van 30 tot 35 een van 73 persent.