Badtyd vir kleingoed

Wie het nie al die frustrasie ervaar van ’n kleinding wat oor wegdryfspeelgoed huil nie? Laat jou kind ’n plastiekwasgoedmandjie (die vierkantige soort met die gate in) sit, gooi sy speelgoed by hom in die mandjie en sit alles dan in die bad. Die speelgoed bly waar dit moet en boonop help die mandjie om jou kind regop te hou.

Reis veilig

Hou ’n spuitbottel met water in die motor. Gebruik dit op warm dae om die metaalgedeelte van sitplekgordels nat te spuit. So keer jy dat die warm metaal jou jong passasier brand.

Trampolientruuk

Sny swembadnoedels dieselfde grootte as die aansluitvere van die trampolien en skuif dit dan oor elke aansluitveer. Die noedels behoort meer as voldoende beskerming te bied teen ongewenste beserings.

Lees ook: Nuttige veiligheidswenke om jou spruit te beskerm

Behou die beker

Jy het dit al ervaar: Elke keer dat jou kroos dors raak, word ’n skoon koppie, glas of beker uit die kas gehaal. Teen die einde van die dag is die kas leeg en die huis vol gebruikte houers. Laat jou kind ’n gunstelingbeker kies, plak ’n magneet of twee aan die buitekant en sit dit teen die yskas vas. So is dit spesiaal en deurentyd binne bereik – en dit keer dat jy onnodig hoef skottelgoed te was.

Spaar seep

In talle huishoudings word vloeibare seep in ’n bottel verkies bo daardie lastige koekie seep wat voortdurend uit jou hande glip. Tog fassineer dit kleingoed om die knoppie te bly druk selfs nadat hulle genoeg seep het. Draai ’n paar rekkies om die hefboom van die knoppie. So kan die knoppie nog gedruk word om seep vry te laat, maar dit kan nie tot heel onder gedruk word nie. Dit keer dat seep gemors word.

Pas skoene bymekaar

Is dit altyd ’n ellendige gesukkel om die regte skoen aan die regte voet te kry? Vat ’n plakker van jou kind se gunstelingkarakter, sny dit in die helfte en plak die twee helftes aan die binnekant van die skoene. Dit behoort weer soos een prentjie te lyk, net met die binnekant van die skoene wat dit skei.

As jou kind dus na sy skoene kyk en die plakker vertoon reg, is die linker- en regterskoen op die regte plek. As die twee stukke van die plakker ver van mekaar is, is die skoene nie aan die regte kant nie.

Hou gesnyde appels vars

Sny die appel in skywe, gooi sout daaroor en plaas dit in ’n plastieksak met ’n bietjie water in. Skud die appelstukke liggies in die sakkie rond sodat die sout afwas en haal dit dan uit. Dit behoort nou langer vars te bly.

Lees ook: Vuil kinders = gelukkige, gesonde kinders

Speeltyd in die motor

Maak ’n skoensak agter die bestuurder- of passasiersitplek vas en vul dit met ’n verskeidenheid speletjies, boeke en speelgoed vir jou kroos.

Hoe om ouers op te spoor

Party ouers skryf met uitstappies hul nommer op hul kind se arm as veiligheidsmaatreël ingeval iemand wegraak. Jy kan ook vir jou kind ’n armband maak met krale wat jou kontaknommer bevat. Dis boonop kleurryk en opvallend.

Keer dat kinders gly

Veral sommige jonge juffers is gek oor modieuse skoene. Maar o wee, die sole is geneig om glad te wees en kort voor lank kan jy maar weet: Gly gaan daar gegly word, en trane sal volg. Moenie die skoene weggooi nie. Gebruik ’n gomgeweer en bring twee stroke gom op die sole aan. Dit verskaf ekstra greep, selfs op gladde oppervlakke.

Bronne: lifehack.org, mashable.com, awesominventions.com

Saamgestel deur Annelene Oberholzer

Deel gerus jul oorlewingswenke met ons by web@huisgenoot.com.